Nuwe kaptein gesoek vir HPP-skip
Nou na 11 jaar het Hansen afgetree en die skool is opsoek na 'n kaptein wat die goeie werk gaan voortsit en ook ander horisonne gaan ontdek en blootlê.

MOKOPANE – Om oud-skoolhoof Jas Hansen se skoene vol te kom staan gaan nie maklik wees nie, maar die beheerliggaam van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) sien daarna uit om te sorg dat die nuwe kaptein wat die skool moet lei genoeg murg in sy pype het om voort te bou op die goeie werk wat hier gedoen word.
Nou na 11 jaar het Hansen afgetree en die skool is opsoek na ‘n kaptein wat die goeie werk gaan voortsit en ook ander horisonne gaan ontdek en blootlê.
Volgens plan sal die pos binnekort in die staatskoerant geadverteer word. Die pos is oop vir almal en regoor die land kan geskikte kandidate wat aan die vereistes voldoen van hulle laat hoor. Die departement sal die aansoeke na die beheerliggaam stuur wie dan ‘n kortlys sal opgetrek en die kandidate vir onderhoude sal nooi. Aan die einde sal die beheerliggaam se top kandidaat, of moontlik die drie of vyf bestes, na die departement verwys word vir ‘n aanstelling. Louis Cangueiro, voorsitter van die beheerligggaam, sê daar sal onder meer gekyk word na die aansoekers se leierseienskappe en ondervinding. Die skool wil graag ‘n dinamiese hoof aanstel wat die leisels stewig kan vasvat, respek kan afdwing en die skool vorentoe kan neem met nuwe inisiatiewe en uitdagings.Almal wat aansoek doen sal oor dieselfde kam geskeer word of die kandidaat nou van hier is of van elders in die land.
Intussen sal Cas Badenhorst, adjunkhoof, waarneem totdat die gekose kaptein aanmeld vir ‘n nuwe avontuur hier tussen die Waterberge in die bosveld se skone natuur.




