Wees paraat tydens die feesseisoen
Dif de Villiers, eienaar van Suricat Gewapende Reaksie, deel met Bosveld se lesers 'n paar veiligheidswenke vir die feesgety:
MOKOPANE – Dif de Villiers, eienaar van Suricat Gewapende Reaksie, deel met Bosveld se lesers ‘n paar veiligheidswenke vir die feesgety:
•Maak seker jou voertuig is ten alle tye gesluit, hetsy jy in die voertuig is of nie. Die verdagtes se modus operandi is gewoonlik as volg: een klop aan jou ruit, terwyl die ander een voertuig se regteragterdeur oopmaak (indien nie gesluit nie). Wanneer jy ‘n poging aanwend om die deur weer toe te maak, maak ‘n tweede verdagte die linker voordeur oop en gryp alles binne sig. “Ek en my vrou was self onlangs die teiken van so ‘n voorval in Thabo Mbekirylaan,” sê de Villiers.
De Villiers vertel van voorvalle wat by Suricat aangemeld is:
• ‘n Vrou se handsak is gegryp terwyl sy in haar voertuig klim.
• ‘n Beursie is vanuit die voertuig gebuit.
• ‘n Selfoon is uit die slagoffer se hand gegryp terwyl hy in gesprek was.
• Die gebruik van ‘n afstandbeheerkontrole is ‘n gewilde tendens onder kriminele, dit belemmer die elektroniese toesluitstelsel van jou voertuig en so word verskeie goedere daagliks gesteel.
De Villiers waarsku die gemeenskap om veral gedurende 16:00 en 20:00 ekstra paraat tuis en op die pad te wees. “Dit is die gewildste tydgleuf vir huisrooftoge en motorkapings. Indien jy die slagoffer van misdaad is, probeer om ‘n goeie beskrywing van die verdagte te kry.”
“Indien enige verdagte optrede of persone gewaar word moenie huiwer om ons te kontak nie, maak staat op Suricat hierdie feesseisoen,” sê De Villiers.




