BOSVELDPRAATJIES: Krismisjolyt!
Kom ek so 'n paar dae voor Kersfees op Oudtshoorn aan. Dis erg warm - selfs warmer as jou vrou wanneer jy die huweliksherdenking vergeet het.

Kom ek so ‘n paar dae voor Kersfees op Oudtshoorn aan. Dis erg warm – selfs warmer as jou vrou wanneer jy die huweliksherdenking vergeet het. Die ou getroude manne sal weet, dis daardie een wat haar drie-uur in die nag in die bed laat regopsit, jou met ‘n stywe wysvinger in die ribbes pomp en deur saamgepersde lippies laat sis: “En nog ‘n ding…”
Teen laatmiddag begeef ek my te voet die dorp in. So ‘n paar blokke weg van die hangbrug kom ‘n bejaarde bruinman uit ‘n bottelstoor gestap met ‘n bruin kardoessak in sy hande. Aan die metaaldop en glasoortjie wat bo uitsteek, eien ek dit dadelik – die veelgeroemde driebottelkan wyn.
Studente wat deur Stellenbosch se Tollies migreer het, sal ook weet van sy groter boetie, die sesbottelkan. Gewoonlik is daar met ‘n fees met laasgenoemde begin, terwyl die manne nog lekker sterk en fiks was. Wanneer hy leeg was, was die manne gewoonlik lekker vol en kon hulle beswaarlik die kleiner boetie hanteer, want met drink uit so ‘n kan moet jy jou storie ken. Dis vinger in die kan se oor inhaak, hom gemaklik op jou skouer swaai en ‘n paar flink teue neem. ‘n Sesbottelkan was net reg om ‘n fees mee te begin, maar hopeloos te swaar as nommer twee in die ry. Dis dan wanneer sy kleinboet nadergesleep is. Na kleinboet leeg was, kon slegs die dapperste onder die dapperes na die enkelbottels Oom Tas toe oorskuif. Net vir geval iemand my nou van allerhande brassery verdink, wil ek dit onomwonde stel dat ek ‘n fyn waarnemer van studentekultuur was!
Ewenwel, net toe die oudste van die sypaadjie aftrap om die straat oor te steek en ek moet sê dit was ‘n besonder hoë sypaadjie, skeur daardie kardoessak oop en daar stort sy Krismisplesiertjie teerwaarts. Op een of ander wonderbaarlike wyse kry hy sy liggaam tussen die teer en die vallende kan wyn ingewerp en daar sit hy, plat op sy blaker in die straat met die kan soos ‘n kleinnood styf op sy skoot vasgeklem. Toe kom die versugting: “Mag, maar dit IS ‘n geseënde Krismis.”
Net so geseënd was dit vir Andries en Fyta, iewers in die Bosveld op ‘n plaas. Dis ‘n ou huis met die onderste vensterraam wat nog na bo opskuif (ouer lesers sal miskien die toue wat deel van hierdie kontrepsie is, onthou). Andries word die nag wakker en hoor hoe die inbreker die skuiwer van die venster oopmaak. Hy staan suutjies op, gaan staan langs die venster en toe die inbreker sy bolyf oor die vensterbank stoot, slaan hy die raam met soveel geweld op hom neer dat die inbreker se voete van die grond af lig (die bron van die storie sê ek moet sê dat sy aambeie so ‘n tuit gemaak het, maar ek sal dit mos nooit doen nie!).
“Fyt, kom hou vas!” Fyta is een van daardie vroue wie se voorouers barvoets die Drakensberge kon oor en met haar volle 130 kg kom lê sy op die vensterraam. Die inbreker se bolyf is so ver in die vertrek in dat hy homself nie met sy arms kan opstoot nie. Andries stap buitentoe met die handsambok waarmee hy die klomp nikswerd werfhonde tugtig en meet die inbreker se boude daarmee. So elke derde hou is mis soos wat die man sy agterent rondgooi.
Elke keer as Andries ‘n ekstra lekker hou inkry, dan lig daardie raam so ‘n paar duim. Ag maar wat, Fyta klou soos ‘n neet en ry hom elke keer weer terug aarde toe. Soos my bron sê: “Hy slaat daardie getuite aambeie weer terug in hul plek”, maar ek sal mos nooit iets so onbehoorliks laat deurglip nie!)
Toe Andries nou behoorlik moeg geslaan is, toe sê hy: “Fyt, laat los”. Met die dat die voornemende inbreker voel die gewig op sy skof verminder, skeur hy hom tussen vensterbank en vensterraam uit en kies al brullend die vlakte, deur die driffie en oor die bult aan die anderkant van die rivier.
Ek haal my hoed af vir so ‘n kloekmoedige egpaar. Nie oor die tugtiging van die inbreker nie, want daar is seker mense wat sal sê Andries moes eerder die polisie geskakel het. Net een ou probleempie. Daar is nie ‘n telefoon of selfoonopvangs op die plaas nie. Ek haal egter my hoed af vir Oupagrootjie Andries (78) en Oumagrootjie Fyta (net so ‘n kortkop agter) wat, ten spyte van hul jare en verskeie agterkleinkinders, steeds vreesloos kans sien om te beskerm wat hul eie is en wie weet, daardeur miskien nog ‘n plaasmoord voorkom het. Dit is mense soos hulle wat my laat bly hoop vir hierdie mooi land van ons.



