Sportsterre tops in 2015
Die sportuitblinkers van Mokopane het vanjaar behoorlik hulle slag gewys op die sportbane, velde en in die water. Hier is van 2015 se hoogtepunte in 'n neutedop.
MOKOPANE – Die sportuitblinkers van Mokopane het vanjaar behoorlik hulle slag gewys op die sportbane, velde en in die water.
Hier is van 2015 se hoogtepunte in ‘n neutedop.
Januarie: Van die Tuks Mokopane swemklub se lede neem in Desember 2014 aan die Suid-Afrikaanse Nasionale skolekampioenskappe in Pretoria deel en bring talle medaljes huis toe. Die skole hou hulle huissport en Bokkesport om die beste spanne vir kragmetings teen ander skole te kan kies.
Februarie: Die Eresabel skermklub hou sy eerste provinsiale toernooi in Mokopane en die klublede vaar goed.
‘n Groot groep sportsterre van die dorp gaan swem die Midmarmyl in Kwazulu-Natal. Die 52ste Bosveld Interhoër word by Hoërskool Piet Potgieter (HPP) gehou en HPP kraai vir die tweede agtereenvolgende jaar koning op die baan en ook op die pawiljoen waar die sangbeker ingepalm word.
Die Potties Atletiekklub hou op Valentynsdag sy jaarlikse marathon op die Sterkrivierpad met 370 deelnemers.
Maart: Die skuts van HPP en die CVO-skool Potgietersrus neem aan die Noord Gauteng Interprovinsiale kampioenskappe deel. Die Tuks Mokopane swemklub spog met lede wat aan die vlak 2 SA kampioenskappe in Germiston gaan deelneem.
April: Atlete van die Potties atletieklub draf die Two Oceans-marathon in Kaapstad kaf. Die Mauritz Hansen rugbyweek word by Hoërskool Hans Strijdom gehou met 78 spanne van 28 skole. Altesaam 80 gholfspelers kom neem deel aan die Kameeldoring gholfklubkampioenskappe.
Mei: Die wintersportsoorte is goed aan die gang by al die skole. Potties atletieklub se atlete wys hulle staal by die 90ste Comrades Marathon. Ralien de Beer (16) is ‘n uithaler-perderuiter wat hier en oorsee op haar perd se rug uithouritte kafdraf. Talle jong bulletjies en mini-netbalspelers kom wys hulle slag op die sportvelde van Laerskool Krugerpark.
Junie: Die Eresabelklub se Andrew Howitt, neem in sy Springbokkleure aan die Statebondspele in Kaapstad deel. PC Botha (73) vertel hy het al meer as 70 000 km gedraf en die Comrades Marathon al 24 keer voltooi. Die Mokopane Primary School se trompoppies word as die Limca kampioene gekroon.
Julie: Drie van HPP se hokkiespanne en drie rugbyspanne gaan deur na die Limpopo-finaal. Op die Ovaalbaan is dit die renjaers wat mekaar die stryd aansê in hulle blitsmotors. Die swemmers van die Tuks Mokopane swembad neem deel aan die KZN Speedo Prestige gala en behaal goeie tye.
Augustus: Die o/14-rugbyspan van HPP wen teen Hoërskool Nylstroom en word gekroon as die Limpopowenner vir mediumskole. HPP se landloopspan wen die Interhoërlandloop nadat hulle met die atlete van vier ander skole afreken op eie bodem.
Die KFC Laerskool Krugerpark gholfdag is ‘n groot sukses met jonk en oud wat saam stokke kom swaai. Altesaam 28 swemmers van die Tuks Mokopane swemklub neem aan die Limpopo Tuks Sprint gala deel en verower medaljes.
Drie van HPP se rugbyspanne is in die kwartfinaal van die Beeld Noordvaaltrofee vir mediumskole.
September: Janco Meiring (18) is ‘n top skut wat in Engeland teen 150 van die wêreld se beste junior skuts deelneem.
HPP se eersterugbyspan verloor in die eindstryd van die Beeld Noordvaaltrofee vir mediumskole teen Ben Viljoen. Die swemmers van die Tuks Mokopane Swemklub ryg talle medaljes in tydens die Shamu Sprint gala in Tzaneen. Zelda Genis van die CVO-skool Potgietersrus verwerf goue medaljes en ‘n silwer tydens die Limpopo skietkampioenskappe. Potties Atletiekklub se lede neem deel aan die Hout is Goud 80 km Dagbreker-uitdaagwedloop wat in Bela-Bela gehou word. HPP se swemmers wen die Interhoërswem-titel teen ses ander skole vir die agste keer.
Oktober: Die vlieëniers van die Potties Vliegklub neem met hulle mikroligtevliegtuie aan die Afrikabekerkampioenskappe in Hazyview deel. Meer as 190 top gholfspelers van oral kom neem deel aan die Barloworld Kameeldoring Gholftoernooi.
Swemmers van die Tuks Mokopane Swemklub neem in hulle Limpopokleure deel aan die NTS Interprovinsiale Gala en verower medaljes.
November: Die duiweboere van die Potgietersus Posduifklub hou hul prysuitdeling en die algehele klubkampioen is Brendon en Dean Williams. Die Sportman Amateur Posduifklub hou ook sy prysuitdeling. Die algehele wenner is Johan van Zyl. Die swemmers van Laerskool Krugerpark wen die Top Tien Gala vir die tweede agtereenvolgende jaar.
Desember: Die Kameeldoring Ladies Classic gholfdag word gehou en talle vroue kom wys hulle slag.
Die Tuks Limpopospan met swemmers van die Tuks Mokopane swemklub word as die Limpoposwemkampioene gekroon.
Limpopo Skerm hou sy grootste kompetisie tot op datum met skermers van reg oor die land wat kom deelneem.




