POLOKWANE – Met ‘n breë glimlag op sy gesig pak Herman Nieman sy splinternuwe skooltas vir die soveelste keer reg.
“Ek kan nie wag om môre skool toe te gaan nie. Ek gaan gr. 1 toe,” vertel hy opgewonde.
Hy kyk twyfelagtig na sy ma toe hy my moes vertel na watter skool hy gaan.
“Hy gaan na Marnè Ebersohn Akademie,” vertel sy ma, Patricia, oor haar oudste wat nou grootskool toe gaan. “Toe hy gr. R begin het was dit vir my baie erger,” lag sy.
Herman vertel trots sy pa het hom geleer hoe om sy naam en van te skryf en sy ma leer hom hoe om Engels te praat.
“My ouma leer my geduld en my oupa leer my dat ‘n boelie my eers vier keer moet slaan voor ek terugslaan.
“As ek in die hoof se kantoor is, moet ek my oupa bel.”
Patricia sê sy dink dit gaan met haar dogter, Nikita, wat nou in gr. R is, selfs nog makliker wees as sy laerskool toe gaan.
Sy sê haar kinders is albei reeds van tweejarige ouderdom by ‘n dagsorg sodat hulle gewoond kon raak aan ander maatjies en ander mense wat na hulle kyk deur die dag.
“My ma het my in ‘n ander skool gesit sodat ek nie ‘n mommy’s-boy is nie. Nou is ek ‘n daddy’s boy,” vertel Herman trots.
“Ek kan nie wag dat die skool begin nie. Ek sien uit na al die huiswerk, rugby en spiesgooi. Ek is vir niks bang nie. Nie eers al die groot kinders of daardie groot meneer nie.”
Herman is opgewonde en vertel graag dat hy absoluut enige iets vir sy maatjie sal doen.
Herman se pa, Jacques, is self baie opgewonde en kan nie wag vir die sport om te begin nie.




