Twee moorde binne twee dae in stad
Die moord op ‘n destydse liggaamsbouer, Pikkie Nel (70) Vrydag was die eerste van twee moorde in die stad die afgelope naweek. Die lyk van ‘n 26-jarige man is Saterdagaand in die RSA-park langs Thabo Mbekistraat gevind. Hy is op die toneel dood verklaar en die polisie ondersoek ’n saak van moord. “Die liggaam is …
Die moord op ‘n destydse liggaamsbouer, Pikkie Nel (70) Vrydag was die eerste van twee moorde in die stad die afgelope naweek.
Die lyk van ‘n 26-jarige man is Saterdagaand in die RSA-park langs Thabo Mbekistraat gevind. Hy is op die toneel dood verklaar en die polisie ondersoek ’n saak van moord. “Die liggaam is omstreeks 20:00 deur ‘n verbyganger gevind wat die polisie en nooddienste ontbied het. Die man het verskeie steekwonde aan sy lyf gehad,” sê Polokwane polisie se kommunikasiehoof, Ntobeng Phala.
Nel se lyk is die vorige aand in ‘n poel in die Sandrivier op die grens tussen Ladanna en Greenside gevind waar hy vroeër die dag visgevang het.
“Ek kan my net indink wat my man moes deurmaak. Ek het Maandag na sy liggaam gaan kyk. Pikkie se liggaam is erg vermink en hy het ’n steekwond aan sy linkerskouer gehad. Sy mond was vol modder en gras soos die aanvallers vermoedelik sy kop onder die water gedruk het in ‘n poging om hom te verdrink en sy hande was agter sy rug vasgemaak,” sê sy vrou, Joey.
“Ek is gebreek en my hart is stukkend. Ek glo nog elke dag my man sal terugkom.”
Joey sê haar man is sonder sy hemp gevind en sy selfoon en twee ekstra patrone vir sy rewolwer is in sy broeksak gevind. Sy aanvallers is vermoedelik slegs met die rewolwer weg nadat hulle hom gemartel en vermoor het. Hy het selfs nog sy polshorlosie aangehad.
“Hulle moes my pa in ’n lokval gelei of onkant gevang het. Ek ken hom, hy sou tot die dood toe baklei het. Al was hy oud, was hy steeds ‘n sterk man. Ek dink hulle het hom ingewag,” sê sy dogter Jeanette.
Joey het vir die laaste keer om 10:17 met haar man op sy selfoon gepraat. “Hy sou vir middagete huis toe kom, maar het nooit opgedaag nie. Toe dit laat raak, het ons besef iets is fout. Ek het lank buite in afwagting gestaan dat hy aangestap kom. Ons is omstreeks 20:00 ingelig dat die polisie ’n lyk in die rivier gevind het,” sê Joey.
“Ons is bekommerd oor die misdaadvlaag in Ladanna. Hier is gereelde inbrake en diefstalle. Misdadigers het ’n vinnige ontsnaproete deur die rivier tot in Greenside. Ons kan dit nie net aanvaar nie. Die polisie moet daadwerklik optree om misdadigers vas te vat.”
Die Nel-egpaar was in Desember 52 jaar getroud. “Pikkie is in 1970 as Mnr Suid-Afrika gekroon en het in 1972 as Springbokliggaamsbouer gekwalifiseer waarna hy teen die bekende filmster en Amerikaanse politikus, Arnold Schwarzenegger vir die Mnr Heelal-titel gekompeteer het.
Nel was vir baie jare die werkswinkelbestuurder by ‘n plaaslike paneelklopper en ‘n ouderling in die Volle Evangelie Kerk Makarios in Ladanna. Benewens sy vrou en dogter, laat hy ses kleinkinders en twee agterkleinkinders agter.
Nel word vandag (Donderdag) om 11:00 vanuit die Volle Evangelie Kerk Makarios op die hoek van Blaauwberg- en Pietersburgstraat begrawe.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto: ‘n Foto van Pikkie
Nel en sy vrou Joey tydens ‘n jaareindfunksie van Polokwane Observer. Pikkie is Vrydag by die Sandrivier in Ladanna vermoor.



