Jong kankerlyer word só gehelp
Tydens 'n fonds-insamelingsprojek is R27 200 ten bate van 'n beenmurgoorplanting vir 'n jong kankervegter ingesamel
MOKOPANE – Die gemeenskap van Mokopane het verlede Oktober saam gestaan in ‘n poging om die finansiële las van Es-Marie Grobler te verlig, nadat haar 12-jarige seun Hendrik (Hekkie) in Maart met leukemie gediagnoseer is.
Lunessa Joubert, eienaar van Pro Travel Agency in samewerking met Legend Golf & Safari Resort het die fondsinsamelingsprojek aan die begin van Oktober gestig.
Lunessa vertel sy het met die inisiatief vorendag gekom nadat sy die Facebookblad ‘Beenmurg vir Hekkie’, wat deur Vanessa Schutte gestig is, raak gelees het.
Vanessa, ‘n getroue vriendin van Es-Marie, sê haar seun Alexander, ‘n vriend van Hekkie, het verlede jaar sy sakgeld vir haar gegee met die beleid dat sy dit aan Es-Marie moet oorhandig om te help om Hekkie gesond te maak.
Vanessa vertel: “Die onselfsugtige daad van my seun het my ter harte geraak en ek het besluit saam kan ons ‘n verskil maak en só ontstaan die blad Beenmurg vir Hekkie.”
Kaartjies vir die fondsinsamelingsprojek was teen R100 elk by Laerskool Krugerpark en by verskeie mense in die gemeenskap te koop. Hulle het dan die kans gestaan om ‘n nag se verblyf vir vier mense by die luukse Legend Golf & Safari Resort ter waarde van R12 000 te wen.
Die trekking het op 26 Oktober plaasgevind en Anina van der Wateren, ‘n gr. 7-leerder van Laerskool Krugerpark, is as die gelukkige wenner aangewys.
Hekkie se broer Kobus (10) het in Oktober van sy beenmurg aan Hekkie geskenk en tans sterk HekkIe tuis aan.
Es-Marie bedank elkeen vir hulle bydrae en in besonder vir Joubert en Legend Golf & Safari Resort.




