Swak diens: DA-lid maak stem dik
"Dit is onaanvaarbaar dat die gemeenskap onder onbekwame en swak dienslewering moet ly."
MOKOPANE – Hierdie is die woorde van DA raadslid van Wyk 32, Yolandé Coetzee nadat haar klagtes op dowe ore geval het.
Sy meen die reuse gat in Ruiterweg voor die Poskantoor is sedert die begin van Desember al afgebaken en tot op hede is daar geen vordering met die herstel daarvan gemaak nie.
Coetzee sê: “Ek het al menigte male versoeke in die verband aan die Mogalakwena Munisipaliteit gerig, maar volgens die amptenare is hulle besig om met die kontrakteur te gesels rakende die situasie.
Na bewering het die firma die pyplyn raak gekap met die lê van die kabels.”
Sy vertel dat haar versoek rakende die herstel van die pad op die hoek van Ruiterweg en van Riebeeckstraat ook geen vrugte werp nie. Volgens Coetzee het die kontrakteur wat onlangs daar geplavei het, nie die stormwaterpyp wat onder deur die pad loop ingedagte gehou nie en as gevolg daarvan is die stuk pad óók nou afgebaken.
“Dit is ontoelaatbaar dat die nodige kundigheid om die probleme te herstel nou eers geraadpleeg word. Waarom is daar nie van dag een af gesorg dat kundige en bekwame persone aangestel word nie,” vra Coetzee.
Die DA het ‘n dringende beroep aan die munisipaliteit gerig om die probleme so spoedig moontlik op te los omrede die afgebakende paaie ‘n veiligheidsrisiko is.





