Juffrou Lize stuur die Suikerbekkies
Review gesels met Lize van Dyk, oor haar geskiedenis in die onderwys en watter doelwitte sy vir haarself as skoolhoof stel.
POLOKWANE – Lize van Dyk, is vanaf Januarie af amptelik aan die stuur van Suikerbekkie Kleuterskool.
Lize, wat reeds sowat vier jaar aan dié skool verbonde is, sê daar wag ‘n nuwe era vir die skool, een waaroor sy opgewonde is.
Review het met haar gesels oor haar geskiedenis in die onderwys en watter doelwitte sy vir haarself as skoolhoof stel
“Ek weet dit gaan ‘n uitdaging wees, maar ek het dit met liefde aanvaar. Dis ‘n uitdaging waarna ek baie uitsien.
Lize vertel sy het haar skoolloopbaan aan Hoërskool Noorderland voltooi voordat sy deur die Noordwes Universiteit gestudeer het.
Sy skop haar onderwysloopbaan af by Oosskool in 2006 en meen hierdie geleentheid was vir haar van onskatbare waarde in terme van wat sy geleer het.
“Ek het Afrikaans aangebied vir die gr. 4- tot 7-leerders. Oosskool was die ideale omgewing vir my om my onderwysloopbaan te begin.
“Ek het in my tyd by die skool baie oor myself, asook van die onderwys geleer,” sê sy.
Maar dis die tyd wat sy die afgelope vier jaar met kleuters deurbring, wat haar duidelik na aan die hart lê.
Sy beskryf dié werk as “vervullend”.
“Al maak jy net ‘n verskil in een kind se lewe, maak dit die toewyding die moeite werd.”
“Die kinders het soveel onskuld. Hulle het ‘n mens so onvoorwaardelik lief, ek geniet elke dag saam met hulle baie,” glimlag sy.
“Ek het ook die onderwys as loopbaan gekies omdat ek baie daarvan hou om ‘n kind te help om sy of haar kreatiwiteit te ontwikkel. As ek kinders kan help vorm en ontwikkel verander ek nie net hulle lewens nie, maar almal met wie hulle in kontak kom, se lewens ook.”
Lize glo dit is ‘n onderwyser se plig om ‘n positiewe impak op ‘n kind se lewe en ontwikkeling te maak. Die nuus dat sy die leisels by Suikerbekkie moes oorneem, was nietemin vir haar oorweldigend.
“Ek was baie opgewonde, maar die nuus sink eintlik nogsteeds in, die groter verantwoordelikheid en die nuwe rol,” sê sy.
Dit was ‘n geleentheid waarvoor sy nie “nee” kon sê nie.
“Ek hou van verandering so ek het die geleentheid met ope arms aangegryp. Verandering is goed, want dit laat ‘n mens toe om te groei.”
Wat is die tipiese uitdagings wat ‘n mens in die onderwys in die gesig staar?
“Vandag se ouers is dikwels albei werksaam, so kleuterskoolonderwysers speel ‘n groot rol in die kinders se opvoeding.
“Dit is nie net ons verantwoordelikheid om hulle te onderrig nie, maar ook om vir hulle liefde en ondersteuning te gee terwyl hulle by die kleuterskool is. Ons dien as onderwysers en, op ‘n manier, as ouers vir die kinders in ons sorg,” verduidelik sy.
Lize is self ‘n ma van twee kinders, ‘n agtjarige dogter in Oosskool en ‘n vyfjarige seun wat in Suikerbekkie Kleuterskool is.
Die tyd saam met hulle is vir haar kosbaar.
“Ek staan soggens op en bring dan stiltetyd saam met die Here deur”.
Hierna kry sy haar eie kinders gereed vir hul skooldag, “waarna ek by Suikerbekkie aankom, gereed om ‘n mamma te wees vir al 130 kleuters”.
Dié nuwe skoolhoof se leuse is eenvoudig: “Wie nie waag nie, wen nie. Die verskil wat jy in ander mense sê lewens maak wys eintlik watter tipe persoon jy is. Dit reflekteer op jou”.
Haar raad aan enigiemand wat dalk die onderwys as loopbaan oorweeg?
“Jou hart moet hierin wees, anders gaan jy jouself en die kinders benadeel. Jy moet ‘n passie hê vir leer en vir die ontwikkeling van kinders as jy dié rigting wil kies.”




