POLOKWANE – Die 12-jarige Rinelda van der Linde, ‘n gr. 7-leerder van Oosskool, het nie net reeds twee keer haar eie rekord in diskus gebreek, nie, maar sy droom ook om eendag by die Olimpiese Spele te gaan deelneem.
Rinelda vertel sy het aan die einde van haar gr. 3 jaar reeds in gewigstoot begin meeding, en sedert gr. 4 in diskus.
En sy het boonop reeds ‘n gunsteling, “diskus is vir my lekkerder, want die skyf is ligter”.
Rinelda is verlede jaar as Oosskool se sportmeisie van die jaar tydens dié skool se sportprysuitdelings aangekondig.
Sy word afgerig deur ‘n privaat afrigter, Antoinette Jordaan, wie self al by verskeie atletiekkompetisies presteer het.
“Ek is geweldig trots op my kind,” vertel haar ma, Riëtte van der Linde.
“Haar pa is in 2014 oorlede en twee weke later het sy deelgeneem aan ‘n kompetisie. ‘n Maand daarna neem sy deel in die Super 12 waar sy ‘n tweede plek behaal het,” sê haar trotse ma.
Gideon Pelzer, skoolhoof van Oosskool vertel hulle is ongelooflik trots op Rinelda.
“Haar harde werk werp vrugte af en ons wens haar sterkte toe vir haar atletiekseisoen. Ons hou duimvas dat sy vanjaar ook haar SA-kleure sal behaal.”




