Rowers steeds gesoek na gewapende rooftog
'n G4S sekuriteitswag is Woensdagoggend in Tony's Cash and Carry deur drie gewapende verdagtes oorrompel.
MOKOPANE – Volgens ooggetuies het drie gewapende booswigte die winkel binnegekom en die G4S sekuriteitswag beveel om die geld by hom te oorhandig.
‘n Anonieme werknemer het aan Bosveld gesê: “Die eerste verdagte, wat swaar gewapen was, het op almal in die winkel geskreeu en gesê ‘voetsek’, en toe het ons almal die hasepad ingeslaan.” Volgens die man het die hele voorval binne vyf minute afgespeel.
Senior reaksie-offisier van Special Operations Solutions, Martin van Eck, sê hy en sy kollegas was eerste op die toneel en volgens inligting wat hulle tydens hulle ondersoek ingewin het, het die verdagtes in ‘n wit BMW en ‘n goue Volvo gevlug.
Teen druktyd was geen verdagtes nog in hegtenis geneem nie, maar ‘n deeglike ondersoek duur voort.




