SOS stuit kaartdiewe in hul spoor
Twee vermoedelike booswigte is Vrydagmiddag na 'n jaagtog deur die strate van Mokopane in hulle spore gestuit deur Special Operation Solutions (SOS) en die plaaslike polisie.
MOKOPANE – Senior reaksie-offisier van SOS, Martin van Eck, vertel aan Bosveld, die buit van debiet- en kredietkaarte het die laaste tyd geweldig in die dorp toegeneem en na ‘n deeglike ondersoek het SOS die kaartdiewe se voertuig geidentifiseer.
Van Eck sê: “Ons het ‘n paar keer die laaste maand die verdagtes probeer vaskeer, maar hulle het ons elke keer ontglip. Ek en my kollega, Willie Harmse, het Vrydag die voertuig by een van die kitsbanke in die dorp gewaar en vinnig tot aksie gespring. Ek het na die Mokopane polisiestasie gehaas om hulp in te win, waarna ons die verdagtes in die rooi Sedan op ‘n jaagtog deur die strate gesit het.”
Van Eck vertel verder: “Die Sedan het die kant van ‘n trok getref en oor die sypaadjie gery waar hy toe by die Sekgakgapeng stop tot stilstand gekom het nadat sy voorste band gebars het.
“Een van die verdagtes het die hasepad ingeslaan, maar Harmse het hom in ‘n japtrap vasgetrek terwyl ek en die polisie die ander verdagte in hegtenis geneem het.” Van Eck sê dat drank ter waarde van om en by R15 000 is in die Sedan gevind. “Ek het ‘n sterk vermoede dit is met ‘n gesteelde kaart gekoop.”
Die Polisiewoordvoerder van Mokopane, Sers. Irene Masingi, sê: “Na ‘n deeglike ondersoek is beide die verdagtes vrygelaat omrede geen gesteelde goedere in hulle besit gevind is nie. Die bankkaart wat hulle vermoed gebuit was het wel aan een van die verdagtes behoort.”
Van Eck sê hy vermoed hulle het die gebuite bankaart in die jaagtog by die venster uitgegooi en dat die SOS span steeds besig is met ‘n deeglike ondersoek in die verband.
“Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om waaksaam te wees wanneer lesers geld by ‘n kitsbank trek, hierdie kaartdiewe is slimmer as die houtjie van die galg,”waarsku die SOS span.



