N.G. Gemeentes staan voor ‘n kruispad
Die gemeentelede van die N.G. Moedergemeente en Oosgemeente is voor 'n kruispad en 'n samesmelting tussen die twee kerke is in proses.
MOKOPANE – Indien als volgens plan verloop sal die twee gemeentes moontlik in Julie al kan saamsmelt en sal die nuwe gemeente as die N.G. Kerk Piet Potgietersrus gemeente bekend staan.
Ds. Peet Venter, leraar van die Oosgemeente sê na ds. Bernard Rademeyer se aftrede as predikant van die Moedergemeente verlede jaar is daar indiepte gekyk na ‘n moontlike samesmelting van die twee gemeentes.
Dalende lidmaatgetalle en finansiële verpligtinge is van die redes wat ‘n samesmelting noop.
“Ons het eintlik nie ‘n keuse as om een te word nie en daar is ‘n groot bereidwilligheid onder beide gemeentes se lidmate om een nuwe gemeente te word. Met ‘n samesmelting sal daar sowat 600 lidmate wees.
“Watter kerkkompleks gebruik gaan word en hoe alles gaan funksioneer is sake waaroor ‘n nuwe kerkraad sal besin.”
Ds. Venter wat sedert ds. Rademeyer se aftrede instaan by die Moedergemeente, het Sondag tydens die eredienste van die twee kerke verduidelik dat ‘n spesiale kerkraadsvergadering op 7 April gehou gaan word waar ‘n tweederde besluit geneem moet word rakende die eenwording.
Die besluit sal dan op 17 en 24 April aan die twee gemeentes voorgelê word, waarna ‘n aprobasietydperk volg wat op 3 Mei verstryk.
Hy het daarop gewys dat ‘n ooreenkoms opgestel sal word en aan die Ring voorgelê sal word vir goedkeuring na deeglike besinning oor ‘n samesmelting.
Hy het die Moedergemeente se lidmate die versekering gegee dat die eeufeesvieringe van dié kerk beslis nie net gaan verdwyn nie.
Corinus du Toit , Voorsitter van die Moedergemeente se kerkraad, wys daarop dat die Moedergemeente op 14 April 1917 gestig is en verskeie gemeentes het toe later afgestig. In 2003 was daar 437 belydende lidmate en 126 dooplidmate, teenoor die 232 belydende en 45 dooplidmate verlede jaar. Oor die laaste elf jaar was daar ‘n 43% afname in belydende lidmate en in 2013 was 41 % van die lidmate reeds bo 60 jaar oud.
“Ons bejaardes sterf af of hulle verhuis na hulle kinders en baie van die eiendomme word dan besigheidspersele.
Die Moedergemeente hou op 27 April sy jaarlikse basaar en vra die gemeenskap om solank die dag oop te hou om saam te kom kuier.



