Bosveld NewsNews

‘Ek salueer ‘n dapper hond, ‘n held’

BOSVELDPRAATJIES: Sy rug, sy boude en bobene is een kloppende massa van pyn, en dwing Tommie om die buitekamer.

Sy rug, sy boude en bobene is een kloppende massa van pyn, en dwing Tommie om die buitekamer.

Hy druk sy kop teen die perskeboom se growwe stam, en rukkend begin hy huil. Selfs dit doen hy sag, bang dat sy stiefpa dit sal hoor, en hom weer met die geel sambok sal slaan.

“Pappa. Pappa, hoekom is jy dood? Pappa, ‘seblief, ek kan nie meer nie. Oom Tiens gaan my en mamma nog doodslaan. Asseblief, kom terug en help ons!” Tommie krimp inmekaar terwyl hy die woorde kerm.

Hy voel hoe die bloed warm en nat teen sy kuite afloop, tot in die stukkende sokkies. Hy weet Maandag sal hy weer in die hitte met ‘n langbroek moet skool toe gaan.

Hy ruk as die growwe nat tong skielik sy bene begin lek, loer skaam om, en glimlag deur sy pyn.

“Ou Rexie. Basie se ou Rexie, maak jy my einas gesond? Is dit lekker vir jou as jy my bloed aflek, ou Rexie?” Hy loer oor sy linkerskouer na die groot swart en taan wolfhond. “My hartjie en my lyfie is so seer, ou Rexie. Hoekom doen hy dit met ons, met my en Mamma?”

Die hond kom staan langs hom en gee fyn tjankies.

Dan breek iets binne die huis. ‘n Vrou gil gedemp, en weer val en breek iets.

“Nee!! Hy slaan weer vir Mamma! Kom Rex.” Ondanks sy seer, lyf hardloop Tommie kombuis toe, en ruk die deur oop.

“Hou op oom Tiens,” skreeu hy … “ek smeek jou, asseblief!”

Tiens Rudman is net in sy onderbroek geklee. Hy het Lida Rudman met sy linkerhand aan die hare, en met sy regterhand slaan hy die weerlose vrou deur haar gesig … weer en weer.

Dan slinger hy haar teen die yskas, en bloed smeer die wit oppervlakte as sy stadig ineen stort.

Stadig draai die grootman om, kyk oogknippend na Tommie.

Hy vat die oop bottel Red Heart Rum op die kombuistafel, en drink skoon uit die bek.

“Kom nader jou klein vuilgoed, vandag slaan ek jou vrek!” bulder hy.

Hy sit die bottel neer, en vat die geel sambok van die tafel af. Bloed blink vars en rooi op die voorpunt van die sambok, en hy lug die sambok op.

“Voetsek jou ….” mik hy na Rex.

Miskien ken Rex ook die sambok, het hy dit ookal op sy lyf gevoel.

Hy grom eenkeer saggies, en toe pyl hy deur die lug op Tiens Rudman af.

“Ons is klaar, Kaptein.” Die man in die wit jas rits die swart lyksak toe, en kom orent.

“Is julle almal klaar, die fotograwe de lot?” Kaptein Henk Roux kyk na die klomp mense in die bloedbesmeerde kombuis. “Waar is die dokter?” “Almal klaar, Kaptein. Dok is by die seun en sy ma, hier op die agterstoep, Kaptein.”

Hulle stap uit, die swart lyksak tussen hulle. Die bure loer nuuskierig oor die heining as hulle die lyk in die lykswa plaas.

Henk kan nie help om die verligting, byna vreugde, in die mense se gesigte te sien nie.

Hy stap na waar die vrou en seun op ‘n bankie sit. By hulle staan ‘n dokter en ‘n verpleegster.

“Ek het hulle wonde gereinig, verbind, en iets vir skok gespuit. Ek sal later weer kom loer. Mevrou en mevrou Nel het aangebied om na hulle om te sien … dit is die bure.”

Die geneesheer en verpleegster groet die ma en seun, en loop na die kant van die huis. Die Nels, Tommie en Lida kyk angstig, byna vreesbevange, na die groot man in die blou uniform.

Sy blik verskuif weg van hulle na waar Rex eenkant sit. Sy bors is nog steeds vol bloed, die geelbruin oë stip op die polisieman gerig.

“Oom, gaan Oom vir ou Rexie doodmaak? Hy’t niks gedoen nie Oom … net gehelp.” Tommie begin saggies huil. “Asseblief … groot ‘seblief Oom.” Henk kyk na die klein seuntjie, die gesiggie vol verbande. Hy kyk na die vernielde, maar angstige gesig van sy ma. Hy bring sy hakke teen mekaar, raak sy pet met ‘n skuins regterhand aan. “Nee, ek salueer julle twee seer, bang mense.”

Hy draai na Rex toe. “Ek salueer ‘n dapper hond, ‘n held.” Toe draai hy om en hy loop.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button