Bosveld NewsNews

70 jaar van toeka tot nou saam met Andy Goetsch

Potgietersrus, vandag bekend as Mokopane, is al vir meer as 70 jaar die tuiste van Andy Goetsch, eienaar van Modern Service Station, Voorsitter van die Mokopane Besigheidskamer, Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en Retail Motor Industry Organisation (RMI).

MOKOPANE – Goetsch se pa, Allen, het vir die eerste keer die deure van Modern Service Station in 1940 in Thabo Mbekirylaan geopen en vandag is Andy al vir 52 jaar werksaam by die einste stasie. Bosveld het hier by Goetsch gaan aanklop en met hom gesels oor sy lewe as ‘n ‘Pottie’ en hoe hy die metamorfose van Potgietersrus na Mokopane ervaar.

Jy bly al vir meer as 70 jaar in Mokopane. Sal jy ooit trek? Ek is ‘n boorling van Potgietersrus, ek was hier op laerskool, ek het hier die dag na my eindeksamen as ‘n vakleerling in motorwerktuigkunde kom werk, ek het hier my vrou van oor die 40 jaar ontmoet, ons is in die Hervormde Kerk getroud en saam het ons twee dogters hier grootgemaak – van my soetste herinneringe is in Mokopane opgesluit. Mokopane het help vorm aan my karakter, dit is my huis en my hart en ek sal nooit Mokopane vir ‘n ander tuiste verruil nie.

Jy is vandag die eienaar van Modern Service Station. Vertel ons meer van hierdie hoofstuk. Ek het op 18-jarige ouderdom as vakleerling in die werkswinkel begin werk, daarna het ek as ‘n gekwalifiseerde werktuigkundige gewerk waartydens ek myself bewys het en bevorder is tot werkswinkelbestuurder en toe tot verkoopsbestuurder. So het ek stadig maar seker die leisels by my pa oorgevat.

Jy is betrokke by talle projekte en organisasies. Waar lê jou groot liefde? By my vrou, Retha, ons kinders en kleinkinders. Ons is bevoorreg, want ons almal bly in een dorp, die meeste van ons vriende se kinders is al landuit.

Jy is die jaar verkies as voorsitter van die Besigheidskamer. Hoe lank is jy al daar betrokke en wat is die mikpunt vir die jaar? Ek is al min of meer 10 jaar betrokke by die Sakekamer en hierdie is my tweede termyn as voorsitter. Ons beoog om meer besighede uit te nooi om betrokke te raak by die Sakekamer, want hoe groter die Sakekamer is, hoe sterker is ons en hoe meer kan ons beteken, veral in tye van die toenemende stakings. ‘n Sterkstem van die Sakekamer is nodig.

Waarom is jy betrokke by so baie projekte? Ek glo dat elkeen ‘n verskil kan maak. ‘n Mens moet net opstaan en bereid wees om iets te doen. Te min mense wil betrokke raak, maar hulle wil saans om die braaivleisvure saam kla.

Jy is ook Voorsitter by die GPF. Vertel ons meer daarvan. Ek was vir 10 jaar betrokke by die polisie as ‘n reservis en het afgetree as kaptein. Nou is ek vir meer as nege jaar betrokke by die GPF waarvan ek al vir vyf jaar die Voorsitter is. Die GPF is die skakel tussen die gemeenskap en die polisie en saam wil ons ‘n positiewe verskil in die gemeenskap maak. Ek nooi almal om elke tweede Dinsdag van die maand ons vergadering om 14:30 by die Speurderskantore te kom bywoon.

Hoe sal jy die oorgang van Potgietersrus na Mokopane beskryf? Toe ek jare terug begin werk het, het ons hoofsaaklik ‘n diens aan die boeregemeenskap gelewer. Ek het al die inwoners geken, so ook elke straat soos die palm van my hand. Vandag het die dorp se karakter van ‘n boere- na ‘n myngemeenskap verander, met baie nuwe inwoners en verwikkelinge. Die koms van die myn is baie voordelig vir die dorp, want dit is ‘n sterk ekonomiese inspuiting en dit hou die besighede staande.

Wat is vir jou eg aan Mokopane? Die boomryke bosveld en wild wat ons dorp omring. Wat doen jy om te ontspan? Ek het so agt jaar terug ‘n wildsplaas buite die dorp gekoop en die stukkie grond het my lushof geword. Dit is altyd vir my aangrypend dat die plaas, slegs 15 km buite die dorp, so drasties van die dorp kan verskil.

Wat is jou raad aan ander aspirant-entrepreneurs? Leer uit jou foute. Ek het oor die jare ‘n string foute gemaak en daaruit geleer. Respekteer die mense wat vir jou werk en leer om jou emosies te hanteer.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitte

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button