Mokopane staking bring skade vir besighede
Bosveld het met 'n paar besighede en leiers in die gemeenskap gesels oor hoe hulle deur stakings geaffekteer word.
MOKOPANE – Besighede verloor geld en die gemeenskap steier onder die onluste wat die laaste twee weke in die dorp weens munisipale stakings opgevlam het.
Die Burgemeester, Parks Sebatjane, het die hulp van buitekontrakteurs verkry maar tans is die beeld van Mokopane een van rommel en riool.
Bosveld het met ‘n paar besighede en leiers in die gemeenskap gesels oor hoe hulle deur stakings geaffekteer word
Leon Koekemoer, van Seeff Mokopane, sê: “Ons sit met ‘n ernstige probleem op hande. Nuwe kliënte kan nie vir water en ligte aansluit nie, uitklarings kan nie verskaf word nie en ek het ‘n hele paar kliënte wat belangstel in die koop van stadsraadeiendom, maar weens die staking kan ek nie die nodige inligting verkry nie. Ons almal ly onder hierdie staking, maar die stadsraad word ook direk hierdeur beïnvloed.”
Pieter Hanekom, eienaar van Triple S Voertuiglisensies, sê: “Ek kan slegs 20% van my werk doen, wat veroorsaak dat 80% van my werk ophoop totdat die munisipaliteit eendag weer oopmaak.”
Renda Heyns, eienaar van Pen & Ink, sê: “Ek het maande terug ‘n rekening ontvang en elke keer wanneer ek navrae doen, is die munisipaliteit toe weens ‘n staking. Die vullis op die straat hou ook ‘n groot gesondheidsrisiko in en ekonomies gaan die meeste besighede gebuk onder hierdie betoging.”
Die hooforganiseerder van die VryheidsFront Plus in Limpopo, Marcelle Maritz, sê: “Dit is kommerwekkend dat die gemeenskap gebuk gaan onder swak diens as gevolg van die staking. Ek hoop en vertrou dat die situasie baie dringend die nodige aandag sal geniet en dat alles terug sal gaan na normaal.”
Korny Dekker, DA-raadslid van Wyk 31, sê: “Geen inwoner van enige dorp verdien swak dienste nie.
“Rou riool wat in die strate afloop, swak of geen onderhoud op paaie, parke wat in ‘n toestand is, straatligte wat nie werk nie en so kan ons aangaan.
“Is dit die norm wat ons moet aanvaar, of is dit wat ons graag sal wil verbeter? Ons het dit beslis nie in Mokopane nodig nie. Die skade van die afgelope weke se stakings is elke dag al hoe meer sigbaar.”





