Bosveld NewsLocal NewsNews

Lim skoonheid, Mev. SA-finalis

Bosveld het met Margy Pretorius gesels oor haar grootwordjare, haar drome en haar titel as semi-finalis.

MOKOPANE – “Ek glo dit is van kardinale belang dat alle vrouens dieselfde hoeveelheid energie en moeite moet spandeer om hulle innerlike skoonheid te bevorder net soos met hul uiterlike voorkoms. Spandeer tyd saam met God en wees lief vir jouself.” Hierdie is die wyse woorde van Margy Pretorius (33) ‘n boorling van Mokopane en ‘n semi-finalis in Mev. Suid-Afrika skoonheidskompetisie.

Bosveld het met Pretorius gesels oor haar grootwordjare, haar drome en haar titel as semi-finalis.

Vertel ons meer van jou grootwordjare. Ek is in die staatshospitaal in Potgietersrus (Mokopane) gebore en het my skoolloopbaan in Laerskool Bysonderheid op Roedtan afgeskop, waarna ons in gr. 4 na Potgietersrus verhuis het en ek my laerskoolloopbaan in Laerskool Krugerpark voltooi het. In gr. 8 het ek die platteland vir die stadsliggies verruil en my skoolhoofstuk in Hoërskool Waterkloof afgesluit.

Watter herinneringe koester jy aan Mokopane?

Potgietersrus of vandag bekend as Mokopane is vir my sinoniem met laggevulde herinneringe van waar ek en my vriende met ons fietse tot by Nylpark gery het vir lekkers en roomys tot pret op die rugbyveld terwyl my pa rugby of krieket speel, slushpuppies by die destydse Biltongmandjie en die jaarlikse Biltongfees was slegs ‘n paar hoogtepunte. “Ek dra tot vandag die letsel van ‘n lekker plaaskuier by Moorddriftdam op my knie waar ek ‘n paar steke na ‘n lelike val moes kry,” vertel sy vrolik.

Wat het jy na skool gaan studeer en waar?

Ek het sak en pak Kaap toe getrek waarna ek onder meer my diploma as grimeerkunstenaar by The Make Up School in Durbanville behaal het en vir ‘n paar jaar by Professional Make Up gewerk het. In 2004 het my man my voete onder my uitgeslaan en ons het na Marble Hall verhuis, waar hy groot geword het, en vandag spog ons met vier kinders.

Wie is Margy Pretorius?

Ek is ‘n vrou eerste en dan ‘n ma wat kos maak en soos ‘n wille wragtig agter my kinders se aktiwiteite aanry. Soms worstel ek ook met die vrees van, ‘is ek goed genoeg,’ maar ek kies om al my vrese by God se voete neer te lê. Ek en my man is ‘n gedugte span wat al menigte storms moes trotseer, maar saam het ons elke keer die storm oorwin. Dan is ek ‘n vrou wat lief is vir musiek, grimeering, pret, lekker eet en ek het ‘n groot liefde vir tale.

Jy is ‘n finalis vir Mev. Suid-Afrika vertel ons meer van hierdie avontuur?

Die verhaal is eintlik ‘n lywige een, maar in kort weet ek dat God my gelei het om vir die kompetisie in te skryf. Ek het aanvanklik deur ‘n mallemeule van emosies gegaan omdat ek bang was ek gaan deur ‘n midlife crisis of dat my gesin daaronder sou ly, maar ek kan vandag met oorgawe sê dat ons gesin hierdie besluit saam geneem het en dat ek myself as my gesin se verteenwoordiger sien. Ek wil hierdie platform gebruik om te groei en om positief tot ons land by te dra. Ek glo dat gesonde families gesonde gemeenskappe vorm en daarom wil ek graag mense help om te besef dat elkeen ‘n roeping het en dat daar rykdom binne elke persoon geberg is wat net ontgin moet word.

Het jy al voorheen aan skoonheidskompetisies deelgeneem?

Ek het as kind een keer aan Mej. Tinkerbell deelgeneem, maar dit is hoe ver dit strek.

Wat is jou lewens motto?

Be Present! Ek kry dit nie altyd reg nie, maar dit is uiters belangrik om in elke oomblik teenwoordig te wees.

Hoe voel dit om ‘n semi-finalis vir Mev. Suid-Afrika te wees?

Onwerklik! Ek moet myself so nou en dan knyp om seker te maak dit is nie ‘n droom nie. Die slagspreuk van Mev. SA is: ‘Girls compete, women empower,’ en dit is 100% waar, ons inspireer mekaar.

As jy een wens kon kry wat sou dit wees?

Dat ek almal se seer kon wegvat, maar dit is onmoontlik so dus is my wens dat elkeen die Here sal ontmoet as sy/haar Redder, sodat Hy ‘n verskil in hul lewe kan maak.

Die top 25 finaliste word op 29 April tydens die Kansa Gala-aand by Emperors Palace aangekondig. Pretorius het al Bosveld se lesers se ondersteuning nodig om ‘n plek in die top 25 te verseker. Lesers kan vir haar stem deur die Mrs SA Facebookblad te like en daarna haar foto onder die top 100 te gaan like. Lesers kan ook haar Facebookblad. Margy Pretorius_ScharzkopfProfessional_MrsSA_Top100_semifinalist deel.

Indien Pretorius die top 25 haal vind die kroningsaand op 21 Oktober plaas.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button