‘Springbok’-been vir Leonnardo danksy Jakaranda FM se engele
Leonnardo is gebore met klompvoetjies en na talle operasies en pogings het dit egter op sesjarige ouderdom vererger. Sy regterbeen en voet het geen groei getoon nie en was hulle dus genoodsaak om sy been net onder sy knie te amputeer.
MOKOPANE – Die meeste kinders se drome is eenvoudig die begeerte om die nuutste speelding op die mark te hê, maar in die agtjarige Leonnardo du Toit se geval droom hy van ‘n splinternuwe ‘Springbok’ prostesebeen en danksy die Tafelronde Kameeldoring 92 is dié droom nou ‘n werklikheid.
Leonnardo is gebore met klompvoetjies en na talle operasies en pogings het dit egter op sesjarige ouderdom vererger. Sy regterbeen en voet het geen groei getoon nie en was hulle dus genoodsaak om sy been net onder sy knie te amputeer.
Sy ma Nomi vertel: “Dit was ‘n hartverskeurende besluit, maar ons het verskeie menings en inligting ingewin en ook met Leonnardo daaroor gesels.
“Hy het gesê hy wil graag ‘n nuwe been en voet hê en dit moet asseblief ‘n ‘Bloubul’ been wees, want hy is hulle grootste aanhanger.”
Leonnardo se been is in Junie 2014 geamputeer en in November het hy sy prostetiese ledemaat gekry, maar hy het intussen so vinnig gegroei dat hy die been ontgroei het en nou ‘n nuwe een benodig.
Die koste vir so ‘n prostese is egter meer as R20 000.
Leonnardo se merkwaardige storie was verlede Woensdag gedurende Jakaranda FM se Good Morning Angels uitgesaai en die Tafelronde Kameeldoring 92 in samewerking met die Tafelronde Teater het die nodige fondse geskenk om Leonnardo se droom ‘n werklikheid te maak.
Nomi sê Leonnardo ‘n gr. 1-leerder van Laerskool Krugerpark is ‘n rugbygeesdriftige nes sy pa Leon en hy sê hy wil asseblief dié keer ‘n ‘Springbok’-been hê.
Nomi en Leon bedank Good Morning Angels, Tafelronde Teater en in besonder die Tafelronde Kameeldoring 92 vir hulle ongelooflike bydrae en ondersteuning.
Die du Toits bedank ook hul familie en vriende wat saam met hulle die pad loop.
“Leonnardo is ons geskenk van God en so klein soos wat hy is, is hy ‘n ware held en ‘n inspirasie!”
Die lede van die Tafelronde Kameeldoring 92 sê: “Dit is vir ons ‘n groot voorreg om die gesin te help en ons poog om nog meer gesinne en individue in nood se drome te help realiseer.
“Ons glo in ons slagspreuk, ‘ordinary people doing extra ordinary things.”




