Trippel M dorpe in ‘n wurggreep
REDAKTEUR SE INK: In die 2013/14 boekjaar het die Mogalakwena Munisipaliteit spoggerig vir 'n derde agtereenvolgende jaar 'n toekenning ontvang as een van die groenste munisipaliteite in die land met 'n skoon oudit verslag en 'n dorp wat 'n voorstaander van 'n rommelvrye omgewing is.
Die munisipaliteit is nie net gereken as een van die top vyf munisipaliteite in die land wat finansieël volhoubaar is nie, maar ook deur die Departement Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme geprys vir sy groen omgewing. “Ons moet ons omgewing beskerm vir huidige en toekomstige geslagte deur redelike wetgewende en ander maatreëls wat besoedeling en ekologiese agteruitgang verhinder, bewaring bevorder en ekologiese volhoubare ontwikkeling verseker,” het Munisipale Bestuurder, William Kekana, toe gesê kort voordat hy in 2015 by die munisipaliteit uitgeskop is.
Vandeesweek is Kekana terug na ‘n hofbevel wat gelas dat hy weer aangestel word in sy pos en hy sê breebors hy sien daarna uit dat dienslewering so gou moontlik terugkeer. ‘n Paar tree van hom op die hoek van Beitel- en Thabo Mbekirylaan waar die stakende munisipale werkers vanoggend weer onder die bome vergader, word daar vuiste gebal, gesing en vasberade vasgeskop. Daar sal slegs teruggekeer word as daar voldoen word aan die werkers se salaris eise.
Ongeag Kekana se herinstelling gaan die werkers voort met hule staking en daarby is daar diegene by die munisipaliteit wat nie sy terugkeer verwelkom nie. Is hier dan eintlik net nog probleme oppad?
Mokopane se sakelui is keelvol vir betogings, stakings en die munisipaliteit se binnegevegte wat vooruitgang in die dorp se ekonomie kelder. Die dorp groei nie buitentoe nie en vir diegene wat hier wil belê is die prentjie tans nie rooskleurig nie, sê van die sakemanne.
Na verneem word moes die munisipaliteit die afgelope twee weke miljoene rande opdok om buitekontrakteurs te kry om die vullis te verwyder. Dié diens is nou gestaak en Mokopane is ‘n vuil dorp, ‘n ashoop met stinkende vullis wat oral rondlê en gras wat heuphoogte staan.
Die inwoners is siek en sat om soos dronk bestuurders te koes vir al die dongas in die paaie, Voeg daarby robotte wat nie werk nie en verkeers- en brandweermanne wat iewers by hul huise agteroor sit. Op sosiale media kondig inwoners luidskeels aan hulle betaal nie vir dienste wat nie gelewer word nie en daar is ‘n hulpkreet van mense wat hulle rekeninge wil betaal en motorlisensies moet hernu.
Leiers en inwoners in Mahwereleng daag by Bosveld se kantore op en verwag ons moet wonderwerke verrig om dienslewering daar aan die gang te kry. In die nedersettings rondom die dorp word bande gebrand uit moedeloosheid vir al die krane sonder water en in ons buurdorpe gaan dit net so beroerd. In Moogophong noop die waterskaarste talle inwoners om ‘n te koop bordjie voor hulle huise in te slaan. Is Mookgophong ‘n spookdorp in wording?
Die trippel M dorpe in Limpopo, Mokopane, Mookgopong en Modimolle, is voorwaar in ‘n wurggreep van wanorde en verwoesting, terwyl die meeste inwoners smag na werkbare oplossings en vooruitgang. Die vraag op almal se lippe is: Wat hou die toekoms in vir die trippel M dorpe?



