Herfsland se nuwe paradys
Die stuk grond by die ingang na Herfsland wat eens op 'n tyd 'n rommel- en miershoop was, is omskep in 'n lushof danksy die vlytige groen vingers van tannie Heilette Kapp.
MOKOPANE – Tannie Heilette (75) en haar regterhand, Tshepo Kale, is vroegoggend aan die water aandra, onkruid uittrek en mooimaak. Sy vertel sy het sowat agt jaar gelede hier ingetrek en eers haar eie tuintjie aan die gang gekry.
Haar man was eintlik die een met die groen vingers, maar na sy dood het sy besluit dit is tyd om die groot stuk aarde by die ingang te bewerk.
“Die lang gras en miershoop voor die huise het soos ‘n seeroog uitgestaan wanneer ‘n mens hier inry. In September verlede jaar het ek begin skoonmaak. Ek het uit my eie sak potte en plante gekoop en van die inwoners het hand bygesit om te help. Party gee kompos, ander plante of ‘n geldjie. Ons is maar pensionarisse, maar die mense hier se harte is groot en ons ondersteun mekaar.”
Terwyl Heilette en Tshepo met ‘n gieter en emmers water die groenigheid natmaak vertel sy daar word soggens met die plante gesels.
“Ek is sielsgelukkig hier in Herfsland. Ek doen dit nie net vir myself nie, maar vir al die inwoners. Die aalwyne is my gunsteling, want in blomtyd kikker die plant se oranje kandelare die vaal winter vrolik op.”
Sy wys trots die brief wat Mej. Aarde 2015, Carla Victor, vir haar geskryf het. Daarin word sy bedank vir haar harde werk om die omgewing te verfraai.
Tannie Heilette sê sy kan nie wag om te sien hoe al die plante gedy nie en wil graag tuinbankies tussen die plante sit. Enigeen wat ‘n bydrae kan lewer tot Herfsland se tuin, kan haar by 076 084 3808 kontak.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za





