Rower ontsnap toe massa wag takel
Diefstal vanuit motors in Thabo Mbekirylaan het die laaste tyd geweldig toegeneem en talle inwoners is daagliks die teiken van misdaad in die gebied.
MOKOPANE – ‘n Sekuriteitswag is verlede Donderdag na die Voortrekker Hospitaal gehaas nadat hy met ‘n baksteen deur ‘n verdagte geslaan is.
Die wag is oorrompel nadat hy hulp aan twee inwoners wie se beursie vanuit hul voertuig gebuit is verleen het. Volgens ‘n anonieme ooggetuie het vier verdagtes ‘n beursie vanuit ‘n voertuig in Thabo Mbekirylaan gesteel, die eienaar van die voertuig het teruggedraai om die beursie te gaan haal, maar toe slaan die verdagtes reeds die hasepad in. Die sentrumsekuriteit het hulp verleen en een van die verdagtes vasgetrek, waarna die ander drie verdagtes toe om hulp gaan roep. “‘n Massa mense het op die sekuriteitswag toegeslaan en hom met ‘n baksteen geslaan, waarna die verdagte, wat toe vasgekeer was, weer ontsnap het.” Rassie Erasmus, reaksie-offisier van Suricat, het op die toneel verskyn, maar die verdagtes het hom ontwyk. Die sekuriteitswag, wat geslaan is, is dieselfde dag nog uit die hospitaal ontslaan.
Erasmus sê: “Suricat gaan die gebied daagliks patroleer en poog om die kriminele in hulle spore te stuit.”
Erasmus doen ‘n beroep op almal wat geteiken is of wat die slagoffer was van misdaad in die gebied om dit by die polisie te raporteer sodat ‘n saak oopgemaak en vervolg kan word. Erasmus wys die gemeenskap daarop dat die verdagtes veral tussen 08:00 tot 10:00 en 15:00 tot 18:00 toeslaan.
Andy Goetsch, Voorsitter van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê: “Ons beplan om binnekort kamera’s in verskeie dele van die dorp te laat installeer en ons glo dit gaan ‘n reuse verskil maak in die bekamping van misdaad.”
Inwoners is gewaarsku om seker te maak hul voertuigdeure is ten alle tye gesluit, moenie waardevolle items binne sig laat nie en wees paraat.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



