Jeugorkes sleur gehoor mee
Wanneer kinders van so jonk as ses jaar sonder enige aanmoediging van ‘n volwassene tydens ‘n simfoniekonsert op die maat van die musiek begin klap, is dit duidelik dat die orkes ‘n wenresep beet het. Dit is presies wat gebeur het toe die orkes, onder leiding van Fanie Jooste, aan die einde van Jacques Offenbach …

Wanneer kinders van so jonk as ses jaar sonder enige aanmoediging van ‘n volwassene tydens ‘n simfoniekonsert op die maat van die musiek begin klap, is dit duidelik dat die orkes ‘n wenresep beet het.
Dit is presies wat gebeur het toe die orkes, onder leiding van Fanie Jooste, aan die einde van Jacques Offenbach se ‘Overture uit Orpheus in die Doderyk’ met die ‘Hellegallop’, beter bekend as die ‘Can-can’ losgetrek het. Die uitvoering is Saterdagaand ten bate van Akademie Reformia by Bolivia Lodge aangebied.
In ‘n uitvoering wat noukeurig saamgestel is om oud en jonk te bekoor, het moderne filmmusiek soos die James Bond-tema die verhoog met swaarder werke soos Franz Krommer se klarinetkonserte en ou gunstelinge soos Léo Delibes se wals uit ‘Copelia’ gedeel.
Hulle het die konsert afgeskop met die ‘Electric Shock March’ van Puccini wat in 1896 geskryf is en toe uit die geskiedenisboeke verdwyn het. Niemand kan verklaar waarom Puccini se enigste mars nooit weer gespeel is nie. Musiekhistorikus het die werk in 2001 in ‘n klein bibliotekie in Lucca, Italië gevind en Jooste het gesê dat hy nie verbaas sal wees indien dit die eerste keer was wat hierdie werk in Suid-Afrika opgevoer is nie.
Jooste, ouddepartementshoof van Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus is al die afgelope 22 jaar aan die stuur van die orkes van wêreldgehalte wat uit 99 hoërskoolleerders van regoor Suid-Afrika bestaan. Drie Limpopo-leerders, Stephan de Lange van Polokwane en Charmilé en Ildonné Srauss van Mokopane is vanjaar in die strykafdeling opgeneem.
Drie briljane soliste, Christelle Venter en Jan Joubert op die klarinet en Simònne Viljoen op die viool se vertolkings het vir hoendervleisoomblike en selfs ‘n traan of twee gesorg.
Die konsert is met ‘Bugler’s Holiday’ afgesluit en Jooste het van die kans gebruik gemaak om met sy uitstekende trompetspelers te spog.
Hoof Foto: Simònne Viljoen leef haar in die musiek in terwyl sy die vioolsolo uit Mozart se ‘Vioolkonsert no.4 in D’ speel.
MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com










