‘Dink voor jy geld aan bedelaars gee’
Op 'n daaglikse basis gee mense 'n 'donasie' vir die man of vrou op straat, maar het jy al ooit gedink jy sterk hulle dalk in hul kwaad?
MOKOPANE – Om dié rede het Solidariteit Helpende Hand van 18 tot 20 April ‘n landswye veldtog naamlik #geeReg geloods om die publiek daarop te wys dat daar “onnadenkend en om die verkeerde redes aan bedelaars gegee word”.
Eulogia de Wet, bestuuder van die Mokopane Noodforum, Hendriette Williams, Voorsitter van die Helpende Hand-tak in Mokopane en eienaar van Tjommies Kleuter en Naskool, en die personeel en ouers van Trapklippies Kleuterskool het hande geneem en die projek verlede week ondersteun. In ‘n studie wat deur Helpende Hand onderneem is, is daar beweer dat tot 90% van blanke bedelaars aan dwelms verslaaf is.
Die organisasie glo dat skenkings eerder aan betroubare instansies gemaak moet word wat hulle daarop toespits om armes by te staan op ‘n konstruktiewe manier. Helpende Hand doen ‘n beroep op die publiek om nie geld aan bedelaars te gee nie.
Lizelle Joubert, projekorganiseerder by Helpende Hand, sê: “Wanneer die publiek aan bedelaars op straat geld gee, verkeer mense onder die wanindruk dat die geld vir lewensmiddele soos voedsel en kleding aangewend gaan word. Min mense besef egter die skade wat hulle aanrig deur geld vir bedelaars te gee.” Williams vertel aan Bosveld dat die geld wat hulle tydens die veldtog ingesamel het aan die Noodforum Beursfonds en Kleuterskoolfonds geskenk is.
Die Noodforum Beursfonds is op die been gebring sodat mense vir ‘n rentevrye studielening aansoek kan doen en die kleuterskoolfonds is van stapel gestuur om steun aan skole te bied wat minderbevoorregte kinders wil help.
Die #geeReg-projek het hand-aan-hand met die bekendstelling van die dokumentêr, Bedwelmd, gegaan. Bedwelmd bestaan uit gesprekke met gerehabiliteerde dwelmverslaafdes en hul geliefdes wat dié tragedie tot in die kyker se sitkamer bring. Die dokumentêr is daarop gemik om mense bewus te maak van die gevare as hulle onnadenkend geld vir bedelaars gee en wat die nagevolge daarvan is.
Lesers wat graag ‘n bydrae wil maak kan Williams by 084 836 0005 kontak.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za





