Mookgophong steeds sonder water
Die drinkwaterprobleme op Mookgophong is nog lank nie opgelos nie en tronkstraf word nou gevra omdat die munisipaliteit nie gehoor gee aan 'n hofbevel nie.
MOOKGOPHONG – AfriForum het Maandag ‘n hofaansoek beteken op Mookgophong Munisipaliteit asook mnr. O.P. Sebola, die waarnemende munisipale bestuurder van dié munisipaliteit. Dit volg nadat Mookgophong al vir ‘n geruime tyd probleme met sy drinkwaterstelsel ondervind.
AfriForum het die munisipaliteit gedurende 2016 op verskeie aangeleenthede op terme geplaas. Ten spyte hiervan, het die plaaslike munisipaliteit nie begin met die nodige herstelwerk soos vereis word kragtens die 2014 hofbevel wat in die Noord-Gautengse Hooggeregshof bekom is nie.
Ingevolge daardie hofbevel is die munisipaliteit verplig om water aan die dorp te voorsien en die inwoners moet ook in kennis gestel word as daar aan waterpype en meganismes gewerk word sodat hulle betyds ander reëlings kan tref.
Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder van Limpopo sê: “AfriForum het die destydse hofbevel teen sowel die plaaslike munisipaliteit as die munisipale bestuurder bekom. Ondanks hiervan het die watergehaltebestuur verder afgeneem.Ons versoek die hof om ‘n bevel te maak dat die munisipale bestuurder skuldig is aan minagting van ‘n hofbevel en dat hy ‘n toepaslike gevangenisstraf opgelê moet word.”
Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak, sê: “dit is ons grondwetlike reg om skoon drinkwater in ons krane te hê. Ons betaal ook belasting vir hierdie diens. In hierdie stadium wil dit voorkom of ons belastinggeld nie aangewend word om te verseker dat ons grondwetlike regte verwesenlik word nie.”
Die munisipaliteit het nog geen verklaring oor die nuwe hofgeding uitgereik nie.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za



