Bosveld NewsNews

Boeliegedrag in die kollig

Boeliegedrag is die afgelope tyd sterk aan die toeneem by skole op die dorp.

MOKOPANE – Boeliegedrag is die afgelope tyd sterk aan die toeneem by skole op die dorp.

Ouers gebruik sosiale media om behoorlik stoom af te blaas oor hulle kinders wat die slagoffers is van ‘n afknouery waaraan nie net kinders nie, maar onderwysers en selfs ouers uitgewys word as sondebokke.

Verlede week het ‘n ma op ‘n Facebookblad beweer haar kind is deur ‘n onderwyser verneder. Dit het wye reaksie uitgelok.

‘n Onderwyser het reageer deur te sê hy is gekant teen boeliegedrag, maar wys daarop dat party ouers so vieslik praat met hulle kinders dat hy wonder wat sal dieselfde ouers sê as die onderwyser so met die kind praat.

Bosveld het van ander lesers wie se kinders slagoffers van boeliegedrag is verneem. Hulle sê as hulle die saak met die skool opneem word hulle kinders uitgesonder so hulle vermy dit. ‘n Ontstelde ma het gesê daar is ongelukkig onderwysers wat hulle gesag misbruik en dit kan ‘n pynlike ervaring vir ‘n kind wees wanneer sweepslae dan met die tong uitgedeel word.

Nog ‘n ouer sê op Facebook: “My seun was so geboelie, sy neus is afgeslaan. Die skool het eenvoudig niks gedoen nie, want dit was die skool se rugbyseuns. Ons moes ‘n saak by die polisie gaan maak om resultate te kry en daar het ook nie veel gebeur nie.”

‘n Ander sê haar kind het sy lot by die hoof rakende ‘n “probleem juffrou” aangemeld, maar dit het op dowe ore geval. Sy meen die onderwysers staan saam en wil nie glo die fout lê soms by hulle nie.

Twee skoolhoofde lewer kommentaar oor boeliegedrag

Cas Badenhorst, waarnemende skoolhoof van Hoërskool Piet Potgieter sê: “Bullebakkery kom sedert die vestiging van ‘n waardesisteem in 2014 baie minder, maar steeds sporadies, voor. Ouers van beide partye word in elke geval gekontak en die skool tree as bemiddelaar op. Dit staan ouers egter vry om oortreders strafregtelik te vervolg.” Badenhorst sê bullebakkery is onaanvaarbaar en die skool sal altyd poog om die gruwel uit te roei. “Die skool kan slegs gevalle hanteer wat amptelik by die skool aangemeld word. Die skool kan nie reageer op inskrywings op sosiale media waar nie-amptelike klagtes en nie-amptelike kommentaar gelewer word nie.”

Johan Vertongen, hoof van Laerskool Krugerpark, sê hy steur hom nie aan sosiale media nie. “Ouers weet hulle is welkom om die skool te kontak. Ons probeer altyd boeliegedrag nekomdraai.”

Bully Proof  SA

Sandra de Graaf en Ansa Smit, twee lewenstylafrigters, het begin met ‘n nuwe inisiatief, Coaching to be Bully Proof in SA, wat daarin spesialiseer om boeliegedrag in laerskole hok te slaan deur riglyne aan kinders, ouers, onderwysers en opvoeders te gee oor hoe om boelies te hanteer en hulle te help. Sandra sê boeliegedrag kom in alle vlakke van die samelewing voor. “Boelies is mense wat hulle mag misbruik om ‘n ander seer te maak of te verneder. Boeliegedrag kan fisies wees met aggressie soos om die ander persoon te stamp, te pootjie of te slaan of dit kan verbaal of geskrewe wees deur afknouery, vernedering, uittarting en dreigemente. Ons gaan kinders, ouers en opvoeders riglyne gee hoe om op te tree. Ons skryf tans ‘n werkboek en gaan opleidingsessies by verskeie skole hê om mense met die nodige vaardighede toe te rus.”

Besoek gerus hul Facebookblad: Bully Proof Coaching SA of stuur ‘n e-pos na info@bullyproofcoachingsa.co.za

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button