Bosveld NewsLocal NewsNews

‘Lyf laat ons met ander oë na die wêreld kyk’

"Almal se idee van normaal verskil … my idee van normaal is 'Lyf'. One size doesn't fit all, en dit is okay!" Só sê Monica Swart, ma van 'n briljante en besonders-unieke vyfjarige seun, Heimrich.

MOKOPANE – Heimrich, bekend as ‘Lyf’ in die Swart-gesin, is op driejarige ouderdom met outisme gediagnoseer.

Die wêreldgesondheidsorgansisasie gedenk outisme in April en dit beklemtoon die voorsiene impak wat hierdie toestand op die samelewing gaan hê.

Outisme is ‘n toestand wat die ontwikkelende kinderbrein affekteer en probleme veroorsaak in drie areas, nl. kommunikasie, sosiale interaksie en die verbeeldingswêreld.

Monica deel hulle ondervinding

“Ek en my man, Heim, was in die wolke met die geboorte van ons eerste kind en tot en met die ouderdom van twee het ‘Lyf’ bo-gemiddeld ontwikkel.

“Hy het graag ‘n hond uit ‘n bos gesels, maar van babadae af moes ons ‘n streng roetine met hom volg en het hy nooit oogkontak gemaak nie. Ek was swanger met ons jongste, Johan (3), toe Heimrich se woordeskat van vlot sinne na twee woorde en op die ou einde slegs drie klanke gekrimp het. Baie mense het vir my gesê ons moenie bekommerd wees nie, dit is slegs die skok van die swangerskap, maar my ma-hart het geweet daar is iets fout.”

Monica sê sy het een aand toevallig ‘n dokumentêr oor outisme gekyk en sy onthou hoe sy letterlik die blokkies kon afmerk. Sy en haar man, Heim, het Heimrich na Soretha Botha, plaaslike kindersielkundige, geneem en sy het hom amptelik met outisme gediagnoseer.

“Ek en my man het saam gehuil en daarna besluit ons het een van twee opsies: of ons ‘rou’ verder of ons trek ons grootmensskoene aan en staar die uitdaging in die gesig.” Monica en Heim het by Special needs adapted program (SNAP) gaan hulp inwin en hulle het Heimrich se terapie spesiaal volgens sy behoeftes ontwikkel.

Monica sê: “Wanner ‘n mens swanger is, weet jy daar is ‘n kans op ‘n miskraam of dat jou kind moontlik ‘n downsindroomlyer gaan wees, maar outisme laat ‘n vreemde smaak in jou mond. Dit was vir my aanvanklik oorweldigend om te hoor my kind is anders en gaan nooit in die samelewing aanvaar word nie.”

Monica en Heim het aanvanklik nie geweet na watter kleuterskool om vir Heimrich te stuur nie, maar te danke aan die knap personeel het Speelparadys Kleuterskool sommer vinnig die antwoord geword.

“Die personeel het saam met my gehuil en dadelik gevra hoe hulle ons kon bystaan. Hulle het regtig berge versit om vir ‘Lyf’ te akkommodeer. Ons sukses is hulle sukses,” sê Monica met trane in haar oë.

Geen outistiese kind is dieselfde nie en wat Heimrich nog meer uniek maak, is die feit dat hy die enigste geval tot dusver is wat woorde en syfers leer en verleer, weens die verkalking van sy breinselle.

Monica vertel verder: “Ons het ‘n streng roetine vasgelê, maar ongelukkig het ‘Lyf’ steeds soms sy afdae.

“Vir ‘Lyf’ is die lewe wit en swart – punt. Hy kan nie emosies lees nie, hy verstaan ook nie die konsep van emosies nie, hy kan nie empatie toon nie, hy het geen natuurlike vrees of pyn reseptore nie en oogkontak kan vir hom fisies pynlik wees. Hy is tas- en smaaksensitief en wat vir ons maklik is, is vir hom ‘n uitdaging, maar hy is ons grootste seëning.” Monica sê dit is hartverskeurend om te sien hoe jou kind sukkel en jy kan niks daaraan doen nie.

“‘Lyf’ het aan die begin meestal in sy eie wêreld gelewe, maar soms het hy die gordyn opgelig en dan vir ‘n rukkie in ons wêreld kom kuier. Met een van sy ‘kuiers’ het hy spontaan saam met my en sy boetie bal geskop. Hierdie kuiers was seldsaam, maar goud werd.”

Heimrich het ‘n jaar terug weer begin praat en spog vandag met die mooiste woordeskat.

Hy en sy boetie het ‘n baie nou verhouding en Heimrich is baie besorg oor hom. Vir Heimrich is sy oupa en ouma se plaas buite Potchefstroom sy stukkie hemel en hy ry selfs al saam trekker.

“Ons is geseënd met ‘n spesiale en ‘n ekstra-spesiale kind. ‘Lyf’ het ons forseer om met ander oë na die wêreld te kyk.

“Ons kan eenvoudig nie ons lewe sonder hom indink nie en as ouer maak dit seer as mense sê hul bid vir genesing, want vat jy die outisme weg, vat jy ons kind weg.”

Heim en Monica staar die volgende uitdaging in die gesig met dié dat Heimrich volgende jaar na die grootskool moet gaan en die hartseer werklikheid is dat Limpopo nog nie oor goedgevestigde strukture vir kinders met outisme beskik nie, veral nie Mokopane nie.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button