Donkiekar ingespan vir haar 75ste
Donkiekarry en familie wat van vêr gekom het om haar te verras het verlede Donderdag vir 'n verjaardag gesorg wat tannie Heilette Kapp van Herfsland, nie sommer sal vergeet nie.
MOKOPANE – Tannie Heilette het agter op ‘n vrolike versierde donkiekar saam met haar familie en vriende deur die strate tot by Kosmoskwekery gery om haar 75ste verjaardag daar met ‘n warm koppie tee en koek te vier.
Tannie Heilette, wat sorg dat Hersland se ingangstuin ‘n lus vir die oog is, vertel sy het die oggend niks vermoed nie en was besig om ‘n tert te maak toe haar vriendin, tannie Martie van Wyk haar kom haal vir tee.
” Buitekant sien ek by die ingang ‘n donkiekar en iemand wat soos my broer lyk. Ek het weer gekyk en dit was wraggies hy wat al die pad van Pretoria gekom het om my te verras.”
Martie van Wyk lag ondeund. Sy wou graag ‘n spesiale verjaardag vir haar vriendin hou en het Yolande Coetzee, DA-raadslid van wyk 32, genader om te hoor of daar nie iemand met ‘n groot slap limousine is wat tannie Heilette na haar verjaardagtee sal vervoer nie.
“Die limousine kon ons nie kry nie en Yolandé het toe met die oulike idee gekom om die GTI Sport Special, dis nou die donkiekar, in te span vir die tog.”
Tannie Heilette het oorbluf ‘n traan weggepik toe die donkies voor die kwekery stop en die res van haar familie haar daar inwag. “Dit was ‘n verjaardag wat ek nooit sal vergeet nie.”
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za



