Estelle groet na 5 goue jare
"Jy het 'n verskil gemaak. Die mense was lief vir jou en die dienssentrum het die afgelope vyf jaar wonderlik gegroei,
MOKOPANE – “Jy het ‘n verskil gemaak. Die mense was lief vir jou en die dienssentrum het die afgelope vyf jaar wonderlik gegroei,” het Johan Kirchner in sy afskeidsboodskap gesê voordat hy Estelle Hartzenberg gegroet het.
Estelle het vir oulaas saam met die lede van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes gekuier voordat sy en haar man, Gabriel, die langpad aangedurf het na die Oos-Kaap waar hulle nou gaan vestig.
Kirchner het Estelle namens die uitvoerende komitee van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes bedank as bestuurder en vir haar bydrae tot die opbou van die sentrum. “Jy het ‘n oopdeur-verhouding gehad vir gesels en kuier. Daar was lekker Kierieklapper dae en aktiwiteite soos trimgim en pannekoek bak saam met die lede. Jy het ‘n verskil gemaak en sowat 98% van die werk vir vanjaar se Kierieklapperfees is klaar gedoen. Dankie ook vir die besonderse wyse waarop jy jou werk oorgegee het aan die nuwe bestuurder, ds. Wimpie Engelbrecht.”
Tilla van Zyl het namens die uitvoerende komitee ‘n potplant aan Estelle oorhandig waarna die kombuispersoneel vir haar gesing het. Estelle het aan Bosveld gesê sy sien uit om haar dogter te gaan help in haar onderneming in George en ook om daar te wees vir haar kleinkind. Sy gaan die geselsies, uitstappies en speletjies-aande saam met die bejaardes mis.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za



