Jarelange inwoner sterf in motorongeluk oor langnaweek
Tienie Blount (76) is Saterdagmiddag in 'n motorongeluk buite Mokopane dood.
MOKOPANE – Tienie en sy vrou, Marietjie (72), wat jarelange inwoners van die dorp was, was op pad na Mokopane toe hulle bakkie en ‘n mini-bus op die R101 gebots het.
Volgens Martin van Eck, senior reaksie-offisier, van Special Operations Solutions (SOS), was hul nooddienste binne etlike minute op die toneel, maar ongelukkig het Tienie reeds aan sy beserings beswyk. Marietjie is na Mediclinic Polokwane gehaas en sterk tans in die intensiewesorgeenheid aan.
Die woordvoerder van die Departement van Vervoer, Veiligheid, Sekuriteit en Skakeling, Kagiso Mootane, sê: “Altesaam 11 persone, insluitend die bestuurder van die mini-bus, is na onderskeidelik die Voortrekker en Mokopane Hospitaal gehaas. Drie insittendes van die mini-bus is ernstig beseer en die ander agt het slegs ligte beserings opgedoen. Die oorsaak van die ongeluk word steeds ondersoek.”
Tienie se suen, Stanley Blount, het Dinsdag aan Bosveld gesê dat dit vir hulle ‘n groot verlies is en dat sy pa reuse voetspore nalaat. “Die begrafnisreëlings is nog nie bevestig nie met die dat my ma steeds in die hospitaal is.”
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



