Vandag nuus, more geskiedenis
BOSVELDTELESKOOP: In die parlement het die EFF so onlangs as in Maart geweier om aan 'n mosie van wantroue teen die "hoofman van Nkôndla" deel te neem.

Terselfdertyd het die einste hoofman beweer dat die vier dae lang aangestelde Minister van Finansies in Desember, ene agterbanker David van Rooyen, die bes gekwalifiseerde minister is wat hy nog ooit by finansies aangestel het. Die markte het dit egter nie geglo nie. Is hy dan so onkundig, of is hy net bloot moedswillig, of gewoonweg net dom?
Miskien moet ek maar wegbly van die laaste woord, want in Turkye is byna 2 000 mense reeds die afgelope twee jaar vervolg omdat hulle die Turkse president beledig het. Hierdie gebeure het egter spoedig geskiedenis geword toe Tannie Tul van die Openbare Beskermer se kantoor, se nogal ongemaklik bevindings oor “Nkôndla” deur die hoogste hof in die land bevestig is. Hoogs amusant hoe die prez en sy lakkeie daardie bevinding probeer systap het. Die kiesers op die grond het egter ‘n probleem daarmee.
Ek verneem hoog onbetroubaar, want mens moet altyd ‘n politikus se uitsprake met ‘n knippie sout neem, dat minstens 1 000 gewese ANC lede in die Bakenberg gebied en ‘n verdere 1 000 in Mogalakwena, sedertdien ingeskrewe DA lede geword het. Betekenisvol is egter dat Mmusi Maimane, DA leier, op 28 April juis in Bakenberg optree. Is dit te vroeg om te sê “Hier kom moontlik ‘n ding”?
Nogal in Rusland van alle plekke, staar ‘n jaar tronkstraf ‘n Rus in die gesig omdat hy op sosiale media beweer het “daar is geen God”. Hy het ook geskryf die “Bybel is ‘n versameling Joodse feëverhale”. Die Russiese ekwivalent van die FBI kla hom dus nou aan van “aanstoot gee aan gelowiges se gevoelens”. Wie sou nou ooit so-iets kon dink, nê? Wonder wat SA se aartskommunis en somtyds Minister van Hoër Onderwys en Opleiding so tussen die stakende studente en brandende universiteite deur, daarvan dink? Die priesteres van die Phoenix Godinne Tempel in Arizona is skuldig bevind dat sy nie ‘n kerklike instelling bedryf het nie, maar eerder ‘n bordeel met prostitute wat teen ‘n “donasie” van tussen $ 200 en $ 650 aanrakingsgebaseerde geestelike genesingsdienste aangebied het. Dit het ingesluit aktiwiteite soos “sacred unions” en streling van mans se “wand(s) of light.” Lyk my mos sommige kerke het beslis meer pret as ander!
Nuusmedia was in Maart vol van berigte oor veronderstelde studente wat afbreek, aanrand, afbrand en plunder, terwyl universiteitsowerhede handegevou sit. En wat sê die hoofaanstigter van geweld op Mafekeng kampus waar die wetenskapgebou (R148 miljoen) afgebrand en hy vir drie jaar by alle universiteite geskors is? Die voormalige SR voorsitter, Linda Mabengwane, beweer die universiteit het self sy eie gebou afgebrand en blameer dus nou die studente daarvoor. Hy was blykbaar ingeskryf vir ‘n meestersgraad in die regte. Is dit moontlik dat iemand nog dommer as Nommer Een kan wees? Beslis ‘n bewys dat geleerdheid niks met intelligensie te make het nie. St 4 of meestersgraadstudent – die een so dom soos die ander.
Nader tuis weet ons nou ook hoekom ons duikbote nodig het. ‘n Hogere vlootoffisier vertel mos anderdag op TV dat dit is om mense teen haaie in ons riviermondings te beskerm. O ja, dan beweer die agbare Minister van die SANW dat daar nie vliegtuie is om vlieëniers op te lei nie, daarom moet hulle almal Kuba toe daarvoor. Die vliegtuie is glo gesteel deur vlieëniers wat aftree, asook deur museums. As die Minister gaan soek, sal sy seker nog die vliegtuig kry waarmee Lt-Kol van Ryneveld en Kapt Brand in Feb 1920 vanaf Engeland na Suid-Afrika toe gevlieg het. Die laaste ent was juis in ‘n geleende vliegtuig van desjare se lugmag, die einste een wat laas nog in ‘n Kimberley museum gehang het.
Corinus du Toit is ‘n rubriekskrywer en sy mening is nie noodwendig die van Bosveld Review, sy personeel of suster publikasies nie.



