In harte leef sy altyd voort
Janet Duvenhage sal gemis word, maar in baie mense op Mokopane se harte voortleef.
MOKOPANE – Haar veggees was onblusbaar en sy was ‘n inspirasie vir talle vroue, veral diegene wat soos sy met borskanker gediagnoseer is.
Sy is Sondagaand oorlede en haar man, Francois, wil die gemeenskap bedank vir hulle hulp en bystand. Die Duvenhage-gesin sê ook dankie aan dr. Walter van Wyk en Jaeni Bester wat haar die laaste sewe maande met soveel deernis en begrip bygestaan het in ‘n baie moeilike tyd.
Francois vertel hartseer borskanker is in 2012 by Janet gediagnoseer en sy het vir drie jaar en nege maande daarteen geveg en was ‘n inspirasie vir duisende vroue.
Benewens haar werk as direkteur van Micromatica was sy ook ‘n uitstekende sportster.
Sy het reeds op skool weggestap met die junior en senior Victrix Ludorum trofeë en haar liefde vir atletiek het nooit opgehou nie.
Ondanks haar kanker het sy verlede jaar onder meer die Two Oceans marathon voltooi en aan Limpopo Biathle deelgeneem. As lid van die Potties Atletiekklub het sy verskeie wedlope voltooi. Sy het ook in September verlede jaar die MBT bergfietsren op Shikwaru voltooi.
“Janet het ander vroue met borskanker hoop en veglus gegee. Ons almal gaan haar mis.”
Janet se begrafnis is vandag (Vrydag) om 11:00 uit die NG Hulp en Hoop Gemeenskapskerk. Sy laat haar man en drie kinders, JG, Ilze en Michelle na.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za




