Delene, Mokopane se eie Moeder Theresa
Wanneer armoede kop uitsteek en daar hulp nodig is, is Delene Pelzer van Die Marias Stigting daar om te help.
MOKOPANE -Delene, ‘n bekende gemeenskapsdiens-werker van Mokopane se rolmodel is Moeder Theresa.
Sy huiwer dus nooit om haar moue op te rol en betrokke te raak by verskeie projekte om armoede hok te slaan en werkskepping te bevorder nie.
Delene het onlangs gehoor van die Mokopane Noodforum se staatsubsidie wat gestop is en dadelik ingespring om te help. Sy het ‘n donasie gegee vir die aankoop van nog groenteplante en vleis geskenk vir die vul van vetkoeke wat verkoop word as ‘n fondsinsameling.
Sy is ook bedrywig in die forum se prag groentetuin saam met Ansie Potgieter, ‘n vrywillige werker van die forum.
Delene en Ansie het verlede jaar die oop stuk grond agter die forum skoongemaak en daar is met mening groente en vrugtebome geplant. Deesdae kry behoeftiges wat by die forum aanklop van die heerlike groente.
Inwoners wat betrokke wil raak by Die Marias Stigting wat ‘n nie-politieke organisasie is nie, kan gerus vir Delene kontak by (015) 491 4800.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za



