Spanwerk trek 21 boewe vas
die polisie, Suricat Armed Response en Special Operation Solutions (SOS) het onlangs kragte saamgespan en 21 booswigte in twee dae in hegtenis geneem.
Agter: Hennie Yeates (Suricat), Carl Compaan (Suricat), Michael Makhubela (SOS), Willie Harmse (SOS), Martin van Eck (SOS) en Oupa Tlhako (SOS). Afwesig: Hendrik Masi
MOKOPANE – Lig aan die einde van die donker ‘misdaadtonnel’ in Mokopane is sigbaar nadat die polisie, Suricat Armed Response en Special Operation Solutions (SOS) onlangs kragte saamgespan het.
‘n Span van die plaaslike polisie onder leiding van kol. Chuene Malebane en maj. Sello Mohale in samewerking met Suricat en SOS het altesaam 21 booswigte in twee dae in hegtenis geneem.
Met die drastiese toename van misdaad in die dorp het die polisie die lede van SOS en Suricat se hulp ingewin en Operasie Misdaad Bekamp is op die been gebring.
Die eerste operasie het verlede Woensdag plaasgevind, waar die polisie, reaksie-offisiere en aanvalhonde Rivierstraat gaan fynkam het en 12 verdagtes vir onder meer dwelmbesit of -gebruik, prostitusie en aanranding vasgetrek en in hegtenis geneem het.
Rassie Erasmus van Suricat sê benewens die heersende syfer rakende diefstal vanuit motorvoertuie is die toename in prostitusie en dwelmmisbruik in die dorp vir hom kommerwekkend.
“Ek glo as ons koppe bymekaar sit kan ons die dorp se misdaad bekamp.”
Dinsdagoggend het die tweede operasie plaasgevind en nege verdagtes is vasgetrek.
Martin van Eck van SOS sê hy glo ook die wortel van die kwaad lê in die toename van dwelmmisbruik in die dorp en omliggende areas en as hulle dié probleem kan smoor, gaan die misdaadsyfer daal.
Die polisie is in hulle noppies met die sukses van die operasie tot op hede en dit sal voortaan meer gereeld uitgevoer word.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



