Bosveld NewsNews

Sjerrie, sop en bredie: winter is hier!

REDAKTEUR SE INK: Charmaine Lourens

Die winter het kom nesskop en dit is nou tyd vir sop, bredie en binne in die huis kuier met goeie vriende.

Skink ‘n glasie sjerrie of Glühwein om die ergste koue te verdryf en trek daardie boek nader wat die hele somer op jou bedkassie gelê en stof vergader het.

Winter is tyd vir rugby en biltong en hier op ons skoolvelde woel talle wintersportspelers terwyl die ouers en ondersteuners hulle aanmoedig. Loop ‘n mens in die winkels rond is daar jasse, serpe, stewels en parmantige gebreide musse en barrette wat vanjaar hoogmode is.

Die vere maak die voël lui die bekende gesegde en Potties se stylvolle vroue het verlede Donderdag gewys hulle hou van tooi en optof. Met Hoërskool Piet Potgieter se uithalerwynveiling was hulle wintermooi uitgevat in swart, wit of warm granaatrooi. Ouma se krale en ‘n kopband met ‘n veer of twee as hooftooisel het die Gatsby-tema vervolmaak. Die manne het glad nie teruggestaan nie en ewe kordaat in swart broeke, wit hemde, strikdasse en hoede gepronk.

En as jy musiektalent het hoef jy nie in ‘n eina-bikini te sing nie sê ek vir my tienerseun terwyl ons Sondag snoesig onder ‘n kombers na die Billboard Musiektoekennings 2016 op televisie loer. Om my punt te staaf is dit juis toé dat die top Britse sanger, Adele, ewe preuts in haar toeknooprokkie sing en die een na die ander toekenning inpalm. Wêreldwyd is dit jonk en oud wat na haar sang luister en haar CD’s koop. Meer as 15 miljoen kopieë van haar nuutste album, 25, het huise gevind en sy spog onder meer met ‘n Oscar vir die temalied van die James Bond fliek, Skyfall en het ook al 19 Grammy’s gewen.

Sit gerus haar musiek aan en pak jou kaste reg. Raak ontslae van al daardie ou komberse en wintersklere want só help jy diegene op die dorp wat nie warmgoed het nie. Die Mokopane Noodforum in Thabo Mbekistraat vra die gemeenskap om al hulle ongebruikte goed, asook nie-bederfbare kosse te bring. Die Noodforum help nie net met die bekamping van armoede nie, maar tree ook in om kinders wat verwaarloos of mishandel word te help.

Dit is vandeesweek Kinderbeskermings-week so vertel gerus vir jou kinders wat hul regte en verantwoordelikhede is. Weet waar hulle is en sorg dat die kommunikasiekanale tussen julle te alle tye wawyd oop is.

Winter is die koue seisoen waar die natuur vir eers tot rus kom en hom dan stelselmatig begin voorberei vir die lente wat weer geboorte gee aan nuwe groenigheid en kleur. Met ‘n warm wintershart wens Bosveld al ons lesers ‘n snoesige winterseisoen toe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button