Top wyne vir Gatsby-getooides
'n Reuse rekord omset van R174 000 is verlede Donderdagaand tydens Hoërskool Piet Potgieter se spog wynveiling behaal. Die volgende lotte het die hoogste bod behaal:
MOKOPANE – Hoogtepunte op die glansaand se spyskaart was die keurige topklas-wynversameling, die fynproewerskos en die glansryke ‘Great Gatsby’ uitrustings van die gaste.
Die wynveiling is vir die vierde agtereenvolgende jaar as geldinsamelingsinisiatief vir die skool se ontwikkelingsfonds gehou en dié gewilde veiling is een van die dorp se groot geleenthede op die sosiale kalender.
Ongeveer 180 gaste het kans gekry om te bie op van die land se voorste wyne met Alan Sinclair wat as die afslaer gesorg het vir kwinkslae en goeie pryse wat behaal is.
Paarl Gimnasium het oorspronklik die konsep gevestig, maar vanjaar het hul besluit dat die werk en koste wat dit vir beide skole inhou nie meer die moeite werd is nie en daarom het hulle nie die jaar met die vennootskap voortgegaan nie.
Waarnemende Skoolhoof, Cas Badenhorst, sê: “Die skool bedank Paarl Gimnasium vir die drie jaar se vennootskap en die leiding wat hulle gegee het om vanjaar ons eie wynveiling te kon aanbied.”
Jaco van der Wateren (oud-voorsitter van die beheerliggaam) het vanjaar dus die leiding geneem om hierdie projek met groot sukses self aan te bied.
Die konsep was reeds gevestig, die skool moes net self die keurige wynversameling aankoop. Van der Wateren, C.P. van der Walt en Pierre Peens, wat reeds vanaf die eerste veiling betrokke was, het op eie koste Kaap toe gevlieg en met top wyne vanuit die Boland teruggekeer. Die driemanskap het by Jan Boland Coetzee (rugby springbok en wynmaker) tuisgegaan. Hulle het sy KWV-kwota, asook sy kontakte in die wynbedryf gebruik.
Die volgende lotte het die hoogste bod behaal:
Lot 75 ‘n KWV 20 Jaar 750 ml Potstill Brandewyn is vir R4 000 deur André Kiesling gekoop.
Kiesling was ook die grootste koper van die aand.
Lot 77 ‘n Simonsig (6 x 750ml) Syrah Merindol, Tiara, Frans Malan & Pinotage Redhill is vir R4 000 deur Fred Beytell gekoop. ‘n Pakket by Bottelierskop is aan Hendrik Swanepoel vir R11 500 verkoop.
Die skool bedank Van der Wateren vir sy inisiatief en leiding en Peens, CP en Gertru van der Walt vir hulle betrokkenheid. Die skool sê dankie vir die komitee, wat bestaan uit Jaco, CP, Pierre, Stanley Blount, Gerda Roos-Hawken, Kurt Kruger, Cas Badenhorst en Michelle Buitendag.
Hul bedank ook in besonder vir Piet Warren, die spreker vir die aand, Leslie Venton vir die ‘wine and food pairing’, Alan Sinclair van Vleissentraal Bosveld, asook Debbie Kiesling, Michelle, Karien Ruytenberg en Illze Malan vir die dekor en tafels. HPP bedank ook Jan Boland Coetzee vir sy hulp en akkommodasie en die knap personeel van HPP.
‘n Spesiale dank aan al die gr. 11 gasvryheidstudie-leerders wat as kelners opgetree het en die gemeenskap wat die wynveiling ondersteun het.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za











