Bosveld NewsNews

Leef jou droom

Bosveld teleskoop: Of jy nou nege is, of negentig, jy is nooit te jonk of te oud om te droom of 'n lewenspassie uit te leef nie.

Johan Stemmet, van Noot vir Noot faam, het op ‘n piepklein dorpie in Namakwaland grootgeword. Sy passie vir musiek het die lewens van ‘n beduidende deel van Suid Afrika se bevolking verryk. Insgelyks laat Leon van Nierop se fliekresensies mense met ander oë na die silwerskerm kyk.

Hier ter plaatse het Adriaan vir ‘n aantal jare rondgeval sonder om werklik koers in die lewe te kon kry. Totdat hy op ‘n dag skielik besef, hy wil ‘n “butler” word. Die vele woordeboeke wat ek daaroor geraadpleeg het, wil maar nie ‘n lekker woord in Afrikaans daarvoor gee nie, miskien omdat dit ‘n vreemde begrip en beroep in Suid Afrika is. Ewenwel, Adriaan het sy lang strawwe kursus in Kaapstad suksesvol voltooi en toe ‘n pos in Tzaneen gekry. Goed gegaan daar totdat die eienaar van die besigheid weens gesondheidsredes moes afskaal.

So loop ek hom toe Saterdag by Baobab Lodge op die Sterkrivierpad raak, netjies uitgedos in sy butler uniform en hy gedy absoluut met die opening van die Lodge se wynkelder wat uiteindelik ‘n afsetpunt in die Noorde vir die wyne van Boplaas en Grundheim kelders uit die Klein Karoo bied.

Pryse is in lyn met ‘n plaaslike franchise s’n, sommiges selfs bietjie goedkoper, maar die voorraad is veel omvangryker. Beter Helfte is nou nie juis ‘n ondersteuner van die vrug van die druif nie en dan het sy nog ‘n soet tand ook daarby. Toe ek my egter kom kry, is sy geil aan die proe en Adriaan skink flytig.

So tussendeur hou hy ook vir Sandy en Deon besig, twee plaaslike boere wat besluit het met die groot droogte moet daar op een of ander wyse ‘n vogtigheidjie op hul plase beland, al moet hulle dit ook daarheen aanry!

Stap ons daar uit met ‘n mooi voorraad, myne natuurlik hoofsaaklik aan die soet kant, want hoe kan mens nou jou vrou weier as sy verlief raak op ‘n roomlikeur met die prettige naam van Happy Cow? Van die boegoe witblits het almal egter weggebly. Blykbaar is dit gewaarborg om enigiets van ‘n ingroei toonnael tot blouwildeboepenskoors te genees.

Adriaan is uiteindelik besig om sy droom voluit uit te leef. Miskien neem dit hom nog eendag op vêr paaie. Wie sal tog weet. By Witpoort Laerskool, 30 km vanaf die naaste dorp, ontdek my seun, Cobus sy passie vir musiek. Daardie passie neem hom na die Pro Arte Alphen Park Hoërskool in Pretoria en vandaar na Tukkies. Hy beland daarna in die VS waar hy op 28 jarige ouderdom sy PhD in uitvoerende fluit behaal en nou op 30-jarige ouderdom aangestel is as professor in fluit aan die Universiteit van Massachuchetts.

Op sy musiekpad het hy reeds talle fluitkompetisies in Suid-Afrika gewen en hier sowel as in die VS, Kanada, Duitsland, Frankryk, Rusland, Japan en Taiwan opgetree, met Indonesië wat in Augustus wag.

Het u, liewe leser, ook ‘n droom, of is dit hier op Mokopane reeds nek-om gedraai?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button