‘Brugman’ nou agter tralies
Thabang Nxumalo (29), beter bekend as 'die man onder die brug' is Vrydag deur die reaksie-offisiere van Special Operations Solutions (SOS) in hegtenis geneem.
MOKOPANE – Nxumalo het ‘n menigde inwoners se bloeddruk opgejaag met sy nesskroppery onder die brug in Pretoriusstraat. Hy het óók groot skade veroorsaak deur waardevolle ou bome te verwoes.
Na talle sake teen die plakker is hy op 29 November 2013 in hegtenis geneem op ‘n klag van minagting van die hof. Daarna was Nxumalo nie weer gewaar tot vroeg in die jaar nie.
Die inwoners het vinnig hulle misnoeë teenoor sy terugkeer uitgespreek en nadat die gemeenskap se pleidooi vir maande op dowe ore geval het, het Yolandé Coetzee, DA Raadslid van Wyk 32, ingegryp.
Coetzee het die Mokopane Besigheidskamer, die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), SOS, Working on Fire, Fauna en Flora, die polisie en die Departement van Verkeer en Nooddienste se hulp ingewin.
Hulle het tydens ‘n vergadering verlede Maandag koppe bymekaar gesit en verlede Vrydag het SOS, nadat Fauna en Flora ‘n saak van Oortreding van die Omgewingswet oopgemaak het, Nxumalo in hegtenis geneem.
Working on Fire het Maandag die area onder die brug, wat deur Nxumalo ‘verfraai’ is skoongemaak.
Coetzee sê: “Hierdie is net weereens ‘n bewys dat twee koppe beter is as een.” Sy bedank almal wat kragte saamgespan het om die probleem op te los.
Volgens Mokopane Polisiewoordvoerder, Sersant Irene Masingi, het Nxumalo Maandag in die Mokopane Landroshof op
‘n klagte van Oortreding van Omgewingswet verskyn en die saak is tot 28 Junie uitgestel. Die verdagte bly in aanhouding.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za





