Beste vriende sterf in ongeluk, saam begrawe
Boesemvriende, Pieter Potgieter en Nicky du Preez, wat die naweek sowat 4 km buite die stad op die N1 Noord in ‘n motorfietsbotsing dood is, word Saterdag saam begrawe. Die twee vriende, albei 19-jaar oud, was op ‘n motorfiets in die rigting van Polokwane op pad toe hulle trompop teen ‘n aankomende bakkie gebots het. …

Boesemvriende, Pieter Potgieter en Nicky du Preez, wat die naweek sowat 4 km buite die stad op die N1 Noord in ‘n motorfietsbotsing dood is, word Saterdag saam begrawe.
Die twee vriende, albei 19-jaar oud, was op ‘n motorfiets in die rigting van Polokwane op pad toe hulle trompop teen ‘n aankomende bakkie gebots het. Beide is van die motorfiets geslinger wat aan Potgieter behoort het.
Die bestuurder van die bakkie het glo van die toneel gevlug, maar is volgens inligting wel later gearresteer. Beide woordvoerders van die Polokwane polisie, Lesiba Ramoshaba en Ntobeng Phala is met verlof en geen verdere inligting kon oor die voorval verkry word nie.
Hul was saam in Genl Piet Joubertskool waar die hegte vriendskapsband gevorm is. Potgieter was by JBM Staal in Polokwane werksaam. Sy ma, Elsabe Scharmeck het hom as haar sonstraalkind beskryf. “Hy het die mooiste glimlag gehad. Ek gaan hom vreeslik mis.”
Sy verloofde, Bianca Rossouw het gesê sy weet Potgieter is nou op ‘n beter plek. “Ek sal hom nooit vergeet nie.”
Benewens sy ma laat hy sy stiefpa, Hein Scharmeck, pa, Kobus Potgieter, broer, Kobus en suster Annamarie Rautenbach agter.
Du Preez se pa, Raubie sê Nicky was werkloos, maar sou vandeesweek by ‘n maatskappy aangesluit het. “Geen geld sal die band tussen ons en hom weer kan koop nie Sy plek is leeg.”
Hy word ook oorleef deur sy ma, Zelda en twee broers, Dylan en Jean-Pierre.
Die twee jong mans word Saterdag om 11:00 vanuit die Lede in Christus Kerk op die hoek van Pieter Joubert- en Jopie Bothastraat in Tzaneen begrawe.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto: Verskaf
Hooffoto: Nicky du Preez en Pieter Potgieter was boesemvriende wat Saterdagoggend met ‘n motorfiets verongeluk het en saam in Tzaneen begrawe word.



