Local NewsNews

Cosatu wil rassisme in Limpopo ernstig aanspreek

Die provinsiale sekretaris van die Congress of South African Trade Unions (Cosatu), Gerald Twala het die vonnis van Hermanus Marthinus van Dyk en Danie le Roux Maan­dag in die Tzaneen Landdroshof verwelkom en gesê die organisasie gaan nie ophou om rassisme in die provinsie te beveg nie. Van Dyk en Le Roux het ongeveer twee …

Die provinsiale sekretaris van die Congress of South African Trade Unions (Cosatu), Gerald Twala het die vonnis van Hermanus Marthinus van Dyk en Danie le Roux Maan­dag in die Tzaneen Landdroshof verwelkom en gesê die organisasie gaan nie ophou om rassisme in die provinsie te beveg nie.
Van Dyk en Le Roux het ongeveer twee weke gelede die petroljoggie, Johannes Monyela by ‘n vulstasie op die Agathapad aangerand. Volgens inligting het beide ook aan die hof erken dat hulle onder die invloed van alkohol was.
Die twee is onderskeidelik twee jaar en 18 maande effektiewe gevangenisstraf opgelê.
‘n Sekuriteitsvideo-opname van die gebeure het landwyd opslae gemaak. Die video wys Van Dyk en Le Roux wat saam met ‘n derde persoon omstreeks 23:00 in ’n rooi motor by die vulstasie stilhou.
Toe Monyela nader stap het ‘n woordewisseling ontstaan waarna die twee uit die motor geklim en Monyela begin slaan het.
In Monyela se poging om van sy aanvallers weg te kom, het hy tot in die petroljoggies se wagkamer geloop, maar is agternagesit en verder aangerand. Hy het beserings aan sy gesig opgedoen.
“Ons hoop die vonnisoplegging is ‘n duidelike boodskap aan ander mense wat hulle steeds aan rassisme skuldig maak. Hierdie was slegs die begin van Cosatu se strategie om rassisme in die provinsie hok te slaan. Ons is bewus van besighede in verskeie dorpe in Limpopo wat byvoorbeeld steeds toilette vir swart en wit werknemers het. Dit sal nie meer geduld word nie en ons doen ‘n beroep op die menseregtekommissie om alle sake van rassisme in Limpopo te ondersoek,” sê Twala.
Ongeveer 2 000 Cosatu-ondersteuners het Maandag tydens Van Dyk en Le Roux se verskyning buite die Tzaneen Landdros­hof betoog waar beide die oggend skuld op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer beken het.
Van Dyk het ook skuld op ‘n aanklag van crimen injuria beken.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto: Internet

Hooffoto: Byna 2 000 mense het Maandag Cosatu se betoging buite Tzaneen Landdroshof ondersteun waar Hermanus Marthinus van Dyk en Danie le Roux tot gevangenisstraf gevonnis is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button