Gesin oorleef aanval na skote klap, polisie sloer
Agt dae nadat die Janse van Rensburg-gesin op hul kleinhoewe op Palmietfontein deur vier gewapende mans aangeval is, het die ondersoekbeampte steeds nie hul verklaring afgeneem nie. “Sedert die voorval het ek gereeld met die ondersoekbeamte gekommunikeer en afsprake gemaak wat hy nie nakom nie. As ek skakel en vra hoekom hy nie opgedaag nie …

Agt dae nadat die Janse van Rensburg-gesin op hul kleinhoewe op Palmietfontein deur vier gewapende mans aangeval is, het die ondersoekbeampte steeds nie hul verklaring afgeneem nie.
“Sedert die voorval het ek gereeld met die ondersoekbeamte gekommunikeer en afsprake gemaak wat hy nie nakom nie. As ek skakel en vra hoekom hy nie opgedaag nie raak hy arrogant en ongeskik. Ek het hom ingelig dat ons vandag met vakansie vertrek,” het Danie Maandag gesê.
Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba sê Janse van Rensburg moet dadelik die polisiestasie skakel om enige ongelukkigheid met die ondersoek te rapporteer.
Janse van Rensburg beweer ook dat van die polisiebeamptes verlede Woensdag op die toneel mekaar eerder om die potspeltafel uitgedaag het as om die saak deeglik te ondersoek. Hulle het glo nie eens ‘n koeëlgat teen die muur opgemerk nie.
“My vrou, Sharon, het die oggend die agterdeur oopgemaak om die huishondjies uit te laat toe vier gewapende ongemaskerde mans die huis instorm. Sy het gegil en kamer toe gehardloop waarna die aanvallers begin skiet het. Die eerste skoot op my vrou was mis waarna hulle in die kamer op my losgebrand en my linkerhand getref het,” sê Danie.
Hy het besef dat die skurke nie sou twyfel om hom of sy gesin dood te maak nie. “Ons twee dogters, Michelle en Madeleine is uit hul kamers na ons kamer gebring waarna hulle geld geëis het. Ek het hul mooi gevra om my nie te skiet terwyl ek die kluissleutels sal gaan haal nie. Intussen het een van hulle reeds die sleutels van die rakkie verwyder. Hulle was nie tevrede met die byna R10 000 in die kluis nie en ek moes al die selfone en twee skootrekenaars ook uitwys.”
Die gesin se hande en voete is met kabelbinders vasgebind waarna die mans die huis verlaat het.
Michelle het stil gelê tot die honde ophou blaf het, waarna sy opgestaan en na haar kamer gespring het om ‘n skêr te kry.
Danie het sy ma, Lettie Kleynhans wat langs hulle woon, gevra om die polisie te skakel. ‘n Koeël het ook teen haar huismuur vasgeslaan.
“Ek is net dankbaar my gesin is nie beseer nie,” sê Danie wat ‘n dag in die hospitaal deurgebring het vir behandeling aan sy arm.
Ramoshaba het bevestig ‘n saak van huisroof word ondersoek.
Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Danie, Sharon, Madeleine en Michelle Janse van Rensburg is verlede Woensdag in hul huis op Palmietfontein aangeval en Danie is in die hand gewond. Links van Sharon se kop is die plek teen die muur waar een van die koeëls vasgeslaan het.



