Local NewsNews

Hieb bly volstoom aan gemeenskap toegewy

“Ons spreek mense in nood se behoeftes op verskeie vlakke aan en beywer ons om met die roeping voort te gaan,” sê Adriaan Fourie, projekkoördineerder van Hulp In Elke Behoefte (Hieb). Die plaaslike geregistreerde welwillendheidsorganisasie verlig sedert 2007 nood in Polokwane en omgewing. Die aanvanklike doelwit was die verskaffing van laekostebehuising, kos, klere en hulpmiddele …

“Ons spreek mense in nood se behoeftes op verskeie vlakke aan en beywer ons om met die roeping voort te gaan,” sê Adriaan Fourie, projekkoördineerder van Hulp In Elke Behoefte (Hieb).
Die plaaslike geregistreerde welwillendheidsorganisasie verlig sedert 2007 nood in Polokwane en omgewing.
Die aanvanklike doelwit was die verskaffing van laekostebehuising, kos, klere en hulpmiddele aan mense in nood. “Die fokus het egter verskuif na ‘n meer gespesialiseerde roeping waar hulp verleen word aan mense wat bereid is om hulself te help,” sê Fourie.
Die afgelope 18 maande bied toegewyde vrywilligerpersoneel daagliks teen geen finansiële vergoeding hul tyd en vaardighede aan en help met voorraadkontrollering, kosvoorbereiding, verpakking en die skryf van bemoedigende boodskappe vir mense in nood by Hieb se sentrum en kantore in Voortrekkerstraat 96.
Frikkie Deysel met vrywilligerhulp ry die stad vol om kos, klere en meubelskenkings op te laai of af te lewer waar nood geïdentifiseer is.
Marina Fourie beman daagliks die HIEB-kantore tussen 09:00 en 12:00 waar sy oorval word met noodoproepe wat met goeie oordeel en die onontbeerlike hulp van maatskaplike versorgers in die stad hanteer word. Die publiek is welkom om te kom kyk wat hier gebeur.
Hieb se hulpfokus het verder verskuif na bejaardes ouer as 60 wat staatspensioene ontvang en nie meer hulself kan help nie. Gedeeltelike hulp word egter steeds aan jonger behoeftiges verleen.
“In ons poging om nood te verlig, het ons nie-amptelik venootskappe gestig met instansies soos Hoërskool Pietersburg se koshuiskombuis wat gereeld surplus kosrantsoenporsies (in plastiese houers deur Hieb verskaf) skenk. Die afgelope drie jaar het PHS meer as 4 000 (500 g) bakkies kos voorsien wat gevries word tot dit uitgedeel word,” sê Fourie.
Hieb verleen ook hulp in terme van landwye skakeling met ander welwillendheidsinstansies, onder andere in Kaapstad, Durban, Bloemfontein en Gauteng. Noodkrete kom selfs van die buiteland soos Nairobi, Kenia en Amerika om te help met familielede in Suid-Afrika.
In Seshego word steeds hulp aan die bejaardesorgprojek, Are Thekganeng, in gebied 1 verleen waar kos en ander middele deurlopend voorsien word. Hulp word ook op ‘n gereelde basis aan nege ander welwillendheidsorganisasies in die stad gegee.
“Die afgelope week het ‘n vrywilligerpersoneellid, Wilna Jordaan ‘n projek aangepak waar ons aan bejaardes by Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes se A-saal 23 geskenk-pakkies met eetgoed, gebak en ‘n serp as blyk van omgee kon skenk. Die vreugde op hul gesigte het ons harte aangeraak en laat besef dat ons selfs meer wil doen tot eer van Hom wat so goed is vir ons is,” sê Fourie wat elkeen opreg bedank wat by gemeenskapswerk betrokke is.
Hy nooi almal om saam met Hieb en ander welwillendheidsorganisasies ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Hieb se kantoornommer is 015 297 2008.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button