Patrollie ly skade oor verkeer se optrede
Groot ongelukkigheid het Vrydagaand onder Polokwane Gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF)-lede tydens ‘n massapatrollie geheers nadat lede van die verkeersdepartement nie opgedaag het nie weens ‘n beweerde staking. Polokwane Observer het die massapatrollie, wat hoofsaaklik uit padblokkades saam met polisielede bestaan het, bygewoon. Dit was duidelik dat die GPF daarin geslaag het om bewusmaking te skep en om …

Groot ongelukkigheid het Vrydagaand onder Polokwane Gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF)-lede tydens ‘n massapatrollie geheers nadat lede van die verkeersdepartement nie opgedaag het nie weens ‘n beweerde staking.
Polokwane Observer het die massapatrollie, wat hoofsaaklik uit padblokkades saam met polisielede bestaan het, bygewoon. Dit was duidelik dat die GPF daarin geslaag het om bewusmaking te skep en om misdadigers en padoortreders aan te keer, maar verkeersbeamptes se afwesigheid het hul pogings gekelder.

By een van die padblokkades is verskeie dronk- of ongelisensieerde bestuurders voorgekeer, maar niemand kon hulle as gevolg van die verkeersdepartement se afwesigheid toets of vervolg nie.
Die departement van vervoer, veiligheid, sekuriteit en skakeling se woordvoerder oor verkeer, Kagiso Mootane sê dit is nog onduidelik of die beamptes staak of nie.
“Niemand wou die staking bevestig nie. Ek is ook nie seker of dit net ‘n sekere groep is wat staak nie want sommige beamptes reageer steeds op botsings,” sê Mootane oor ‘n moontlike staking wat broei.
Polokwane GPF-skakelbeampte, Johan Retters het gesê die doel van die massapatrollie was om ‘n nuwe kommunikasiesisteem tussen die verskillende sektore te toets en om bewusmaking te skep.
“Ons het die blootstelling nodig omdat inwoners steeds nie die belangrikheid van GPF-lidmaatskap besef nie. Die informasie wat deur lede van die GPF ingesamel en aan die polisie deurgegee word, is belangrik om strategie te beplan oor maniere om misdaad te bekamp en selfs te voorkom,” sê Retters.
GPF-lede het naby Mall of the North bymekaar gekom waarna lede na hul onderskeie sektore ontplooi en padblokkades gehou is. ‘n Polisiebeampte is saam met elke sektor ontplooi.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Ladanna GPF-lid, Roelof van Breda gaan ‘n bestuurder se bestuurderslisensie na tydens Vrydagaand se massapatrollie.




