Bosveld NewsLocal NewsNews

Afrikaans kry holte vir voet, danksy veldtog

As dit vir jou lekker is om Afrikaans te praat, te lees en te leer dan is 'n nuwe veldtog waar jy kan spog met jou taal net die ding vir jou.

MOKOPANE – Saam met Veldtog Afrikaans wat op 1 Junie afgeskop het, is daar ook ‘n splinternuwe webtuiste, www.afrikaans.com, waar jy Afrikaans kan vier en verken.

Afrikaans.com en die Veldtog vir Afrikaans word deur Dagbreek Trust gefinansier en is begin deur verskeie organisasies en mense wat ‘n gedeelde liefde vir die taal het en dit op ‘n positiewe wyse wil uitbou.

Volgens dr. Theuns Eloff, voorsitter van Dagbreek Trust, ‘n platinumborg van die Pendoring-reklametoekennings, het die veldtog gestalte gekry ná ‘n dinkskrum sowat twee jaar gelede waar talle Afrikaanse organisasies verteenwoordig was en indringend besin is oor die toekoms van Afrikaans.

“Die feit is Afrikaans is polities onder druk en die tyd het aangebreek vir álmal wat lief is vir die taal om saam te werk om sy toekoms te verseker.”

Die webtuiste, www.afrikaans.com, is ontwikkel om blootstelling te gee aan al die projekte waarby die veldtog aansluiting vind.

Dis ‘n plek waar jy jou wortels kan vind, jouself kan uitleef en uitdruk.

Gaan saam op ‘n avontuurtog deur die wye landskap van ‘n taal met ‘n geskiedenis wat lees soos ‘n Deon Meyer-boek, ‘n hede so oproerig en vernuwend soos ‘n NP van Wyk Louw-gedig en ‘n toekoms so opwindend soos die ritme van ‘n Hemelbesemtong.

Volgens Eloff is die webwerf ‘n bymekaarkomplek vir álle mense wat hulself deel voel van die taalfamilie, hetsy naby, verlangs of terloops en vir enigeen wat meer oor die taal en sy bedrywighede wil weet of sommer net nuuskierig is oor die Afrikaanse leefwêreld.

Deel van Veldtog Afrikaans is die bekendstelling van ambassadeurs vir Afrikaans, mense wat deur ‘n verskeidenheid van projekte en inisiatiewe ‘n verskil maak.

Afrikaans.com hou jou op hoogte en skep ‘n lewendige netwerk waarby jy kan inskakel.

Wat roer jou en wat raak jou? Hoe voel jou Afrikaans? Hoe proe of ruik jou Afrikaans? Hoe klink jou Afrikaans en hoe leef jy Afrikaans? Almal se Afrikaans lyk anders.

Ons leef, praat en ervaar Afrikaans verskillend.

Op afrikaans.com kan jy self ‘n bietjie kom spog, inspireer of verras en deelneem aan die gesprek en kompetisie met lekker pryse op die spel.

Mede-liefhebbers van Afrikaans word genooi om deel te word van die veldtog om saam aan die langtermyn toekoms van Afrikaans te bou. Besoek afrikaans.com en kom gesels saam.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button