Potte prut tydens Kansa-kompetisie
Verskeie besighede in die dorp se werknemers het verlede Saterdag die Kansa potjiekoskompetisie by Casa Feliz ondersteun.
MOKOPANE – Die Grieke was daar in hulle antieke wit linnedrag, so ook die seerowers en die cowboys met hulle stewels en hoede – alles vir ‘n goeie doel.
Verskeie besighede in die dorp se werknemers het verlede Saterdag die Kansa potjiekoskompetisie by Casa Feliz ondersteun en daar is groot gekuier en geesgebou rondom die pruttende potjies. Die wenpot was die Coke, blatjang en beespotjie van die Grieke met die Cowboys van die Oakes tweede en die Hoccus Pocus span derde.
Die Grieke het ook die prys vir die beste stalletjie opgeraap met Meat City wat die troosprys verower het. Na die beoordeling is daar behoorlik gesmul aan die potjies se murgsagte inhoud.
Die heerlike feesatmosfeer is aangewakker deur die afwagting op die derde toets tussen die Springbokke en Ierland wat laatmiddag op die groot skerm aanskou is.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za




