Bosveld NewsNews

Die soeke na ewige jeug

REDAKTEUR SE INK: Botox, vullers, chemiese afskilfering, lig en klank die lys is oneindig lank en wie wil dan nou nie mooier en jonger lyk nie?

Cleopatra het in melk gebad en Nero se vrou het glo heuning gebruik om die ewige jeug te probeer behou, maar vandag word naalde, lemme en laser ingespan om die ideale voorkoms te skep.

Die mens se stryd teen Vader Tyd is so oud soos hyself. Deur die eeue is talle metodes beproef van gesigontrimpelings tot die inspuit van skaapselle waarin die hartpionier, Chris Barnard tot met sy dood onwrikbaar geglo het.

Die kosmetiese bedryf blom die afgelope twintig jaar en baie vroue begin sommer vroeg om botox, vullers en laser-behandelings as voorkomende behandeling teen die ouderdom te gebruik.

‘n Goeie kosmetiese chirurg kan inderdaad dekades wegsny en sorg vir ‘n ‘wow’ eindresultaat, maar ongelukkig is dit ook deesdae te maklik om ontslae te raak van unieke familietrekke soos ‘n prominente neus wat wys jy hoort iewers, jy is deel van ‘n trop.

Dit is nie net met gevorderde kosmetiese prosedures wat jeugdigheid aan die wêreld voorgehou word nie, maar met photoshop kan aspoestertjie binne minute op jou rekenaar in ‘n beeldskone prinses verander. In my werk het ek al dikwels teruggediens wanneer ek ‘n bekende in lewende lywe ontmoet en besef die kunstenaar voor my lyk heelwat ouer en anders as die voorbladprentjie op tydskrifte.

Wys foto’s die waarheid, of moet jy soos ons hier op kantoor deesdae fyn loer na die prentjie voor jou? Soms skrik ek my plooie skoon weg as ek sien hoe die photoshop-kwas deur amateurs op facebook ingespan word.

Hier in Mokopane is baie beeldskone photoshop divas wat spog met gladgestrykte en plooilose prentjies op facebook. Loop jy hulle op straat raak besef jy die ouderdom wag vir niemand nie, maar die gedokterde foto’s op faceboek voed verseker die siel en selfbeeld as ‘n mens al die kommetare onder die foto’s raaklees. Ek besef die kamera jok nie, dit is die mens wat oorywerig poets om die ‘volmaakte’ kiekie te skep.

Dit bly ook nie net by facebook nie, want teen die lamppale in die dorp pronk ‘jonk’ gepoleerde verkiesingskandidate wat dui na die mens se ewige strewe na jeugdigheid. Maar wat is mooier as ‘n vrou wat met grasie oud word en elke seisoen in haar lewe omhels so saam met haar karakterlyne en lagplooie. Dit wys hier is ‘n lewe geleef en laat my onwillekeurig my gunsteling liedjie van Brandi Carlile neurie: ” All of these lines across my face tell you the story of who I am. So many stories of where I’ve been and how I got to where I am”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button