Plaasmoorde in Limpopo wek steeds kommer
Die 30 plaasaanvalle en twee moorde op plase in Limpopo van Januarie to Junie vanjaar plaas dié provinsie derde op die nasionale punteleer.
LIMPOPO – Volgens die jongste statistieke van die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) het plaasmoorde en aanvalle met 44 % gestyg invergelyking met verlede jaar.
In slegs ses maande was daar reeds 186 plaasaanvalle en 39 moorde landswyd teenoor verlede jaar se 131 aanvalle en 27 moorde. Limpopo was verlede jaar heel bo aan die punteleer met 25 aanvalle en vyf moorde, dié jaar het die hoeveelheid aanvalle in die provinsie wel gestyg, maar daar was ‘n afname in die hoeveelheid moorde.
Gauteng is nou die provinsie waarin dié misdrywe die meeste plaasvind, gevolg deur Noordwes, Limpopo, Mpumalanga, Kwazulu-Natal, Vrystaat, Noord-Kaap, Wes-Kaap en Oos-Kaap.
Statistiek dui aan dat 1824 plaasmoorde en 3931 plaasaanvalle tussen 1990 en middel 2016 plaasgevind het. Uit die vermoorde slagoffers was 1 170 plaasboere, 491 direkte familielede, 141 plaaswerkers en 22 besoekers.
“Indien die tendens voortduur wat tot dusver vanjaar gegeld het, sal dit lei tot ‘n rekordgetal van 78 plaasmoorde en 372 plaasaanvalle,” het die adjunk-president van TLU SA, Henry Geldenhuys, gesê.
Die Assistent-Hoofbestuurder van TLU SA, Henk van de Graaff sê: “Die enigste rede waarom die moorde nie in dieselfde mate toeneem nie, is omdat boere hulself beter beveilig en meer paraat is.”
Organisasies soos Hertigate Protection Group (HPG) en die Spoorsnyers in Limpopo het die jaar al groot sukses bereik en talle booswigte in hegtenis geneem. Sakkie Lourens van die HPG sê die stigting van die organisasies maak ‘n groot verskil.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za



