Bosveld NewsNews

Nuwe president en lede vir plaaslike Rotariërs

Die klub het vandeesweek sy 54ste bestaansjaar gevier en daar is groot planne om 'n verskil in die gemeenskap te maak.

MOKOPANE – Die lede van die Potgietersrus Rotariërs het verlede Saterdagaand hul jaarlikse inhuldigingsete by die Park Hotel gehou waar ‘n nuwe president en lede ingehuldig en voorgestel is en daar ook verslag gedoen is oor die afgelope jaar se bedrywighede en vooruitsigte.

Die klub het vandeesweek sy 54ste bestaansjaar gevier en daar is groot planne om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Nie net gaan die klub se naam moontlik verander nie, maar daar gaan hard gewerk word om meer lede te werf en betrokke te raak by verskeie uitreikaksies.

Blondie McGlashan het die leisels as president by Barry Fagan oorgeneem. Fagan was van 2013 tot middel 2016 president. Fagan het gewys op die talle projekte wat die lede onder sy presidentskap aangepak het, wat insluit die verspreiding van 2 000 dosyn eiers aan behoeftiges, asook die verskaffing van vleis aan die Abraham Kriel Kinderhuis op Modimolle. Hy het Blondie voorspoed toegewens vir haar taak.

Dit is nie die eerste keer dat Blondie as president gekies is nie, sy het ook in 2009/10 aan hoof van die Potgietersrus Rotariërklub gestaan. Blondie vertel sy het in 1982 bewus geraak van die Rotariërs toe haar man, Ian, lid geword het.

“In daardie jare was dit net mans wat aan die Capricorn Rotariërklub in Polokwane behoort het. Die vroue was deel van die Anns. In 2000 kon vroue ook deel word van die mansklub en ek is toe verkies as president van die Capricorn klub vir 2000/2001.”

Die klub het Saterdagaand sewe nuwe lede verwelkom. Hulle is: Marlize Grobler, Gift Mothoa, Maliti de Beer, Delene Pelzer, Louise Mentz en Andrie Trichardt. Adri Botha was afwesig en is Dinsdagaand ingehuldig. Die nuwe bestuur wat saam Blondie gaan sorg vir ‘n opwindende jaar waarin die gemeenskap gedien gaan word, is: Leon van Huysteen (klubsekretaris), Ian McGlashan (tesourier en uitvoerende sekretaris), Marlize Grobler (ledewerwing), kapelaan Dawie Kotzé (skakelwerk), Barry Fagan (“foundation”) en Trust Muzondo (gemeenskapswerk en fondsinsamelings).

Enigeen wat belangstel om by die Rotariërs aan te sluit is welkom om Blondie te kontak by 082 4489105.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button