Skokgolwe ruk deur stad na ma en kinders helder oordag ontvoer word
‘n Vrou en twee kinders is vroeër vandag (Woensdag) vanuit ‘n dokterspreekkamer se parkeerterrein in Ladanna ontvoer. Polisie het die voorval op die toneel bevestig en gesê hulle soek na twee verdagtes in ‘n swart BMW. Westenburg polisiewoodvoerder, Maphure Segobola het gesê die ma van die een kind het blykbaar aan familielede gesê sy het …

‘n Vrou en twee kinders is vroeër vandag (Woensdag) vanuit ‘n dokterspreekkamer se parkeerterrein in Ladanna ontvoer.
Polisie het die voorval op die toneel bevestig en gesê hulle soek na twee verdagtes in ‘n swart BMW.
Westenburg polisiewoodvoerder, Maphure Segobola het gesê die ma van die een kind het blykbaar aan familielede gesê sy het verlede week ook die BMW waar sy gery het opgemerk.
“Die ontvoerdes is die ma van ‘n vyfjarige meisie, die vyfjarige en die ma se susterskind (15). Ons is nog nie seker wat presies gebeur het en hoe die drie uit hul motor tot in die verdagte BMW geforseer is nie. Volgens inligting het die BMW glo die ma se motor tot naby ‘n mediese praktisyn se spreekkamer in Ladanna agtervolg,” sê Segobola.
‘n Vrou wat by die betrokke arts se praktyk werk, het telefonies aan Polokwane Observer bevestig dat die voorval wel plaasgevind het en gesê die ma se voertuig is verlate op die terrein gevind met sleutels en selfone binne-in, maar kon nie verder oor detail uitwei nie.
Die ma het glo voor die ontvoering met haar suster oor die foon gepraat en gesê daar is probleme, maar verdere inligting oor die aard van die probleme is nog nie bekend nie.
Segobola sê die BMW het glo nie ‘n registrasienommer aan die voorkant nie en inligting oor dié voertuig is reeds na alle poisiestasies deurgegee om met die opsporing te help.
Die identiteit van die slagoffers word weens sekuriteitsredes en die sensitiwiteit van die aangeleentheid weerhou.
Storie: RC Myburgh
Foto: Polisie op die toneel in Doornkraalstraat waar die ontvoering vroeër vandag plaasgevind het.



