BlogsBosveld NewsNewsOpinion

Kinderbeskerming en die regte van die kind

Eulogia de Wet, maatskaplikewerker van die Mokopane Noodforum deel haar regte-kennis.

MOKOPANE – Eulogia het ingestem om in die volgende paar weke maatskaplike vraagstukke en kwelpunte waarmee sy te doen kry met Bosveld se lesers te deel.

Vandeesweek skryf sy oor die regte van die kind.

Maatskaplikewerkers word daagliks gekonfronteer met die vraag: “Mevrou, maar wat is my reg as pa of ma ten opsigte van my kind?”

Dit is vir my belangrik dat mense kennis dra van wat die Kinderwet, Wet 38 van 2005, soos gewysig dit stipuleer, vandaar hierdie reeks artikels wat ek oor die volgende paar weke met julle gaan deel.

Regte van die kind

Meeste volwassenes vergeet dat kinders ook regte het, hierdie regte word vervat in wetgewing van:

“The Bill of Rights of the Constitution of the Republic of South Africa, 1996”;

”The Childrens Act 38 of 2005”;

”The UN Convention on the Rights of the Child, 1996”; en

”The African Charter”.

Die volgende basiese beginsels vanuit bogenoemde Wetgewing is belangrik tot dienslewering by kinderbeskerming:

• Die beste belang van die kind ten opsigte van sy/haar versorging, beskerming en algemene welstand is ‘n gegewe en ook die belangrikste vertrekpunt.

• Elke kind het die reg op basiese voeding, skuiling, gesondheids- en versorgingsdienste.

Dit impliseer ‘n skoon en veilige omgewing, gesuiwerde skoon water om te drink en toegang tot maatskaplike dienste.

Kinders se behoeftes is ten alle tye die hoogste prioriteit.

• Kinders het die reg om aangehoor te word en kommunikasie moet op die kind se ontwikkelingsvlak gehanteer word om te verseker dat besluite wat hulle affekteer, ook vir die kind verstaanbaar is.

• Kinders het die reg om toepaslike en goed gekoördineerde ondersteuning te kry, om te verseker dat hul welstand, gesondheid en ontwikkeling bevorder word.

• Alle kinders het die reg om as ‘n individu erken en gehanteer te word

• Alle kinders het die reg om beskerming teen sosiale, kulturele en godsdientige gebruike wat nadelig kan wees vir sy/haar welstand.

• Enige kind met ‘n kroniese siekte of getremdheid het die reg om beskerming teen blootstelling aan enige mediese-, sosiale-, kulturele- of godsdienstige praktyke, wat nadelig sal wees vir sy/haar gesondheid, welstand of waardigheid.

• Enige kind het die reg om ‘n saak voor die hof te bring en wetlike ondersteuning te bekom, binne die bepaalde jurisdiksie/area waar hy/sy woonagtig is.

• Enige kind het die reg tot deelname aan sake waarby haar of sy toekoms, verblyf, kontak met ouers, gesondheid en opvoedkundige keuses onder andere, besluit sou word, met in ag neming van die kind se ouderdom, stadium van ontwikkeling, begirp en volwassenheid.

Die mening van die kind moet in aanmerking geneem word.

• Elke kind het die reg om beskerm te word teen alle vorme van mishandeling (misbruik, verwaarlosing of uitbuiting).

• Primêre skool opleiding is elke kind se reg en dit is beide die ouers se verantwoordelikheid om toe te sien dat dit gebeur.

• Kinders wat vlugtelinge is, het die reg op spesiale beskerming en ondersteuning, asook op al die basiese regte soos vervat in die ”UN Convention on the Rights of the Child, 1996”.

• Kinders het die reg om by hul ouers te bly tensy dit skadelik vir hulle sou wees.

• Elke kind het die reg om beskerming teen uitbuiting en onwettige of gevaarlike arbeidspraktyke wat ‘n negatiewe invloed op hul gesondheid, skolastiese vordering of enige ander reg soos om te ontspan en te speel te mag hê.

• Kinders het die reg om met respek, regverdigheid en gelykheid behandel te word, met beskerming teen enige onregverdige diskriminasie op enige vlak, insluitende gesondheids status, gestremdheid van die kind of enige van sy of haar familielede.

• Elke kind het die reg op privaatheid en konfidentialiteit.

• Enige optrede of besluite, waar van toepassing moet ‘n kind se gestremdheid erken word.

Daar moet ook verseker word dat ‘n gunstige omgewing verkry word om in die kind se spesiale behoeftes te voorsien.

• ‘n Kind, sy/haar ouer, of versorger soos toepaslik, moet altyd in kennis gestel word van enige besluite of aksies wat die kind sou raak, met in ag neming van die kind se ouderdom, stadium van ontwikkeling, insig en volwassenheid.

• ‘n Kind se familie moet die geleentheid kry om hul mening te lig rakende enige saak betreffende die kind.

• Waar kontinuum van sorg oorweeg word, is die publieke owerheid verantwoordelik om die opvoeding van kinders te bevorder met dien verstande dat die veiligheid en welstand van die kind in aggeneem word.

• Enige ingryping deur die owerheid in die lewe van ‘n kind moet behoorlik geregverdig en op inter-sektoriale samewerking gebaseer wees.

• Kinders wat blootgestel is aan verwaarlosing, misbruik of uitbuiting moet die nodige ondersteuning tot fisiese en sielkundige herstel en herintegrasie tot die gemeenskap kry

Ek glo dat die kennis rakende die regte van u kind, vir die nodige insig en wysheid sal sorg wat ‘n mens daartoe instaat sal stel om hulle optrede en besluite sodanig te rig dat die beste belang van die kind te alle tye die eerste en belangrikste vertrekpunt sal wees.

Groete tot volgende keer

Eulogia de Wet

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button