Afrikaans-onnie veg vir sy taal, gemeenskap
Wanneer dit kom by liefde vir Afrikaans en die geveg om die taal aan die gang te hou is daar nie baie wie vir hul taal opstaan soos Joey Williams nie.
POLOKWANE – Williams is ‘n Afrikaanse onderwyser by Westenburg Sekondêre Skool vir meer as 21 jaar en vertel dat hy glo dat daar verseker te min onderwysers is wie in Afrikaans onderrig gee.
“Ek glo Afrikaans is hier om te bly. Tersiêre vlak is ‘n ander saak maar in laerskole en ook hoërskole of sekondêre skole kan Afrikaans nie uitgelaat word nie want dit sal die kinders wie met die taal in hul huise grootword ‘n reuse onreg aandoen,” vertel hy.
Williams het homself onlangs in die munisipale verkiesing beskikbaar gestel om tot raadslid verkies te word.
As iemand wie baie betrokke is in sy gemeenskap vertel Williams dat hy besluit het om te staan as raadslid omdat hy die behoeftes van die mense in Westenburg ken en verstaan. “As onderwyser is ek outomaties ‘n leier in die gemeenskap en ek kan nie agteroor sit en kyk hoe dinge agteruitgaan nie. Ek wil seker maak dat die gemeenskap die beste dienste kry,” sê Williams.
Hy is in die gemeenskap ook bekend vir sy netjiese klere en bypassende hoede.
“Ek hou daarvan om anders te lyk en mooi aan te trek. Ek is ‘n gesiene mens in die gemeenskap en as onderwyser moet ek ‘n voorbeeld stel,” verduidelik hy. Williams is ook die voorsitter van die Khoisan-verwysingsgroep.
“My besige skedule hou my op my tone maar ek maak tyd om saam met my gesin te kan wees. Ek hou daarvan om tyd saam met my familie deur te bring.”
In sy gemeenskap is hy met byna elke geleentheid seremoniemeester. Hy beskryf homself as iemand wie streng is maar wie met baie verskeie mense kan gesels. Sy vriendekring sluit mense van alle loopbane in.
“Alhoewel ek baie streng en kwaai kan wees, is ek iemand met ‘n goeie sin van humor, ek hou van ‘n grap,” vertel hy.
Hy sê hy geniet dit om klaswerk op sy eie manier oor te dra, gewoonlik deur ‘n grap iewers in te werk of ‘n toneelstuk uit te beeld.
Hy sê as jy belangstel in onderwys moet jy ‘n liefde vir kinders het. “Onderwys gaan oor die leerders, daar is baie min onderrigtyd en dit verg baie hare op jou tande. Druk is een van die dinge waarmee ‘n mens moet kan werk. Jy moet altyd die leerders se behoeftes voor jou eie sit,” vertel hy.
Williams verduidelik dat as jy ‘n onderwyser is beteken dit jy gaan te doen kry met kinders uit verskillende huise en met verkillende agtergronde en dat dit van jou sal afhang om daardie leerders as een klas saam te bring. “Daar is leerders wie baie liefde en aandag nodig het en die lekkerste beloning is om hulle te sien presteer.”



